Bokomo-brekfisbrief; 07/07/2010: Eerste liefde ... vir Karin en Oester

  • 0

Sjoe, dit laat mens onwillekeurig terugdink, hierdie briewe van julle. En dis waar, niks kom ooit, ooit weer by die passie van ‘n eerste liefde nie. Daardie tot-oor-jou-ore-toe verliefdheid is verslawend, en die heel lekkerste gevoel op aarde.

Myne was doer in die Kaap, net so noord van die Baai, in ‘n klein dorpie, toe ek st 7 was en C in st 10. My ma het nog daar skoolgehou, so ek was nie baie gewild in haar streng boeke om vir so “ou man” te “val” nie. Iets van lewenservaring en ouderdom … kan nie onthou nie.

Met die sokkie een aand het hy my genooi na sy huis toe, daar was niemand by die huis nie. Ja ja, ek weet wat almal dink, en daai tyd gedink het, en ook so aan my ma gaan oorvertel het. Maar dit was so onskuldig. Regtig, al het niemand my ooit geglo nie 😉 Ek het besluit die sokkie is boring, ek gaan bietjie by hom kuier.

By sy huis het hy my al sy houtwerk kunswerke gewys, toe het ons in sy kamer gaan sit en na musiek geluister en gesels. Hy het ‘n tape van Roxette opgesit, en met die song “The Look” het hy my so saggies nadergetrek en net daar het ek my eerste regte oopbek French kiss gekry. Wat ‘n belewenis. Ek het letterlik gevoel hoe my knieë lam word, my hart het vinniger geklop, my hande was yskoud en natgesweet, my wange het bloedrooi gegloei. Maar die reuk van hom, van sy kamer, die beligting, die liedjie se klanke, alles is in my geheue ingebrand sodat ek dit nooit ooit sal vergeet nie. Ek het die toneel oor en oor in my gedagtes gespeel, herbeleef, gehunker … want dit was die laaste … ek en hy het net daardie een soen gedeel.

En tot vandag toe wonder ek oor hom, en daardie soen.

Altruïs

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top