Sy het haarself so genoem. Want as mens haar gevra het hoe dit vandag gaan het sy beduie: "Nee, ek is soos 'n balloon. Elke keer wat julle my sien is ek groter". En so het die mense haar later genoem, al was haar naam Mienie Britz. Met 'n Z, nie met 'n s nie het sy mense gedurig reggehelp. Dis nie dat sy so erg groot was nie, dis meer dat sy so kort was. Basies 'n paar voete hoog. Kort armpies wat altyd haar handsakkie hier aan haar groot bors vasgeknyp het. Altyd lekker geruik al was die parfuumpies nou nie regtig Red Door of ander duur goete nie.
Beweeg was basies hoofsaaklik vir "oumens pay", want dan moes sy gehaal word sodat die staat
Maar Mienie was ook so bedonnerd soos 'n geelslang. Haar humeur en mond het meer as genoeg opgemaak vir haar kort lyf. Ons moes haar altyd saam uithelp tot by Rooiby en dan moes Koos alleen verder bewerk om haar in te kry, want sy het mos haar waardigheid en dit deug nie as 'n jongeling haar "bloemers" en pentiehoses bekyk nie. "Hege, Koos, ek slaat sommer jou kop inmekaar, kan jy nie sien ek sukkel om in te kom nie, stadig met die voet, ek sukkel nog met die anner ene". En as sy eers in is (na 'n lang geskel en Koos se geduldige "ja Bokkie") en haar rok tot op waardige lengte afgetrek is moes ek naderstaan om die deur vir haar toe te maak, want "Koos slaat hom te hard toe".
En nee, die "Posvrou" moes maar self uitkom om haar te kom "pay", want Mienie het verseg om haar waardigheid in die slag te laat bly vir iemand wat haar nie goed genoeg ken nie. Ironies genoeg was sy ook 'n Brits. Met 'n S, nie met 'n Z nie. Eers by Mavenster het sy uitgesukkel (die inklimproses basies omgekeerd). Want sy moes kom groet en haar "groselies" kom beduie. Dan het Mavenster haar stoel (sy't verseg om op enigiets anders as op oom Sias se stoel te sit) nadergebring vanwaar sy gesit het sodat sy dinge kon bekyk. Laatmiddag is sy huis toe geneem. Ek onthou nog hoe Mavenster haar altyd by Rooiby se venster 'n kardoes vol lekkergoed in die hand kom stop het. "Gee tog maar vir Koos ook van die lekkers, Mienie, hy kyk mooi na jou."
Soos dinge mos maar was destyds was dit 'n "eenstop koopervaring" waar nie net emmers meel en suiker verkoop is nie maar ook klerasie en skoene en allerhande ander goete. Mienie se klerasie was 'n delikate sakie, want slegs Mavenster mog haar klerasie bestel en vir haar wys. Die reisigers (hulle het destyds mos een keer 'n maand omgekom met hul tasse vol "samples") het al geweet as ons gevra het vir, mmmmmm groter nommers. En slegs ou Ian se maatskappy kon "cater" vir Mienie se mmmmmm, spesifieke "smaak".
Ian, terloops was later reisiger vir
Mienie se staande bestelling was een mmmmmm (hoe stel mens dit op 'n mooi manier?), "broekie". Elke maand. En ons mog dit nie sien nie laat staan nog dit hanteer. Mavenster of Cornelia (slegs in uitsonderlike gevalle) moes dit in bruinpapier toedraai voor die ander mense dit sien. Want "mens wys nie onderklere vir almal om te sien nie. Dis nie propers nie."
Die laaste week of wat dink ek gereeld aan Mienie, want ek ry elke dag verby die huis wat haar trots was wat nou afgebreek word om plek te maak vir die groot ontwikkeling vir die rykes en vernames. Ek wonder, terwyl hulle die mure so platslaan of hulle weet met hoeveel liefde en sorg daardie einste mure elke jaar afgewit moes word? Hoe Mienie op haar stoel gesit en skel het op Koos as hy 'n plekkie gemis het? Die boompies wat Koos met die waswater versorg het le nou onderstebo op 'n hoop rommel. Die Dahlias by haar voordeur (wat slegs vir uitsoekgaste bestem was) is lankal net 'n gedagte.
Na haar dood het Koos toe maar opgeëindig in die versorgingsoord by Da Nova. Hy het soms gebel en dan moes ons oorkom en kom dagsê. Ek het 'n idee hy het hom dood getreur want hy is nie lank na Mienie ook onder die kluite in.
Mienie se laaste bestellinkie klerasie en ondergoete lê nog hier agter in my stoor. Ons hou dit maar vir eendag as hier dalk iemand inkom wat sulke goed wil hê wat eintlik 'n geslag gelede al uit die mode was. Nee, ek lieg. Ons hou dit maar weggepak in die bokse want ek vir een sal dit nie oor my hart
oester


