Bokomo-brekfisbrief; 07/05/09: Hier volg die weervoorspelling

  • 0

 

 

Ek het van Sue se ervaring met die weer gelees. So gaan dit mos maar. Ek ken ʼn omie wat een keer vir my waar woorde gespreek het. Hy het gesê daar is ʼn paar manne wat jy nie sommer glo nie. Een van die manne wat hy toe as liegbekke klassifiseer, is manne wat met "Hydraulics" werk, en dit sluit ʼn moerse klomp mense in.

Ek wil sommer ook my lysie maak. Ek weet daar gaan ʼn klomp ouens wees wat hul sterte in krulle gaan trek, maar ek sal lyfstraf vat daarvoor.

Ouens wat transport ry: Vra my, want ek het self transport gery. Op ʼn stadium was ek met ʼn transport-onderneming bedrywig. As iemand jou bel en vra waar sy goed is, sê jy net dit is nou-nou daar.

Vir predikante wat die besigheidswêreld betree moet jy ook lig loop. As daar op die briefhoof staan "God bestuur die besigheid", moet jy jou goed vat ek hol.

Assuransieagente (was self ook een gewees): Ek is daar weg agv gewetensbesware. Ek kon ook nie die mas opkom nie. Velletjie is te dun.

Karverkoopsmanne: Die kar wat jy wil koop is deur ʼn ouerige dame bestuur wat net kerk toe en Pick n Pay toe gery het. Ja, hoor, al die pad in eerste rat.

Mechanics is ook op die lys - Meneer, die kar kort net dit of dat en ʼn moerse klomp geld later moet jy betaal.

Ek glo ook geen politikus nie, en ek praat van almal deur die bank.

Tuiniers: Het ʼn man gehad wat by my in die tuin gewerk het. Oorywerig en erg eerlik tot op ʼn dag. Skakel die besproeiingstelsel een dag aan om dit te toets. Sien water uit die grond borrel en gryp dadelik die graaf. Spit die nat kol oop en sien dat die pyp twee gate in het.

Ek wag toe tot hy weer eendag sy opwagting maak en gaan wys hom die skade.

"Nee, meneer, ek weet nie waar die gate vandaan kom nie."

Ek noem toe aan hom dat die laaitie te lui is om ʼn spitvurk op te tel en dit vir die vrou te swaar is.

"Nee, meneer, ek weetie."

Ek stel toe voor dat ek en hy een aand in die tuin oornag, want daar is ʼn wetter wat in die nag werk terwyl ons slaap en wil ek die man voorlê en vang.

Tuinman is nog steeds weg - soos ʼn kind wat met kattekwaad betrap is.

Vir die mense van die weerkantoor is ek ook lugtig.

Reusedwerg

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top