Bokomo-brekfisbrief; 07/05/08: Boeke en skrywers, vir Doortjie van Delmas

  • 0

Beste Doortjie

Ek het jou brief aan prof Hambidge gelees en hoewel ek nie met haar kan meeding mbt tot literêre kennis nie (sal dit nie waag nie!) kan ek dalk, omdat ekself 'n byna fanatiese leser is, dalk 'n wenk of twee gee.

Eerstens, jy hoef nie alleen te voel omdat jy ernstig en selektief lees nie; daar is baie mense wat dit doen.

Tweedens, jy is reg; baie skrywers soos Maretha Maartens se werk word oor een kam geskeer en dis 'n groot jammerte. Jakoba Afrikaner was 'n uitstekende boek en ek is nie 'n groot aanhanger van haar tipe literatuur nie. Hier op Robertson waar ek woon het ons 'n baie dinamiese leeskring en bespreek ons iets van alles – selfs boeke van M Maartens. Al wat ek kan aanbeveel is dat jy resensies oor die boek in die hande kry en dit aan julle leeskring voorlê; miskien sal hulle dan van plan verander. Resensies is by NALN in Bloemfontein beskikbaar en jy behoort ook daarvan op LitNet se argiewe te kry.

Dit is nie net haar boeke wat geïgnoreer word nie. Wanneer laas het iemand iets oor Etienne Leroux bespreek? Almal dink weer dis te moeilik om te verstaan.

Derdens, ek admireer jou ywerigheid om goeie Afrikaanse letterkunde te lees – ek het nie kans gesien vir Agaat nie (kon net halfpad kom), maar jy moet ook daaraan dink om miskien wyer te lees – boeke wat op 'n ligter trant geskryf is, soos byvoorbeeld werke van Hennie Aucamp, Abraham de Vries, George Weideman, Petra Müller, Rachelle Greeff. Ek kan ongelukkig nie vir jou boeke in die heel ligte Afrikaanse kategorie aanbeveel nie, want ek lees dit self nie.

Gaan krap rond in die biblioteek. Daar is altyd iets te ontdek tussen die ouer skrywers se werke – het self al op wonderlike boeke afgekom.

As jy daarna voel kan jy my kontak by skrywersburo@gmail.com en dan sal ek kyk of ek ook vir jou 'n lys van goeie boeke en skrywers kan stuur. Sal beslis kyk wat Joan Hambidge vir jou aanbeveel. Ek is seker dit sal 'n interessante lys wees.

Hoop dit help.

Anita de Kock
Robertson

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top