Bokomo-brekfisbrief; 07/04/2011: Mooi tye

  • 0

Gisteroggend werskaf ek hier in die pakkamer en hier kom ek af op Boeta se speelgoedwa waarmee hy kleintyd menige toktokkie, reëngogga, koringkriek, ruspes en selfs bosluise vervoer het. Die wa is agter aan die groen trekker gehaak en dan is paaie uitgery, gedreun en alleen-gesels. Anders as sy ander speelgoed het dié twee voertuie die toets van die tyd deurstaan, en wie weet, miskien kom daar nog eendag ’n nuwe klein witkoppie wat met hulle sal wil verder gaan.

Maar waaraan ek toe eintlik dink is die droogte-jare toe ons in die dorp gewerk het, die kinders nog in die laerskool. Ons huis was net ’n paar blokke van die skool en Boeta en Klein-Piet van langsaan het sommer middae veld-langs huis toe gestap. Boeta was ’n kranige slangvanger, en as die twee die dag nie betyds is vir ete nie, kan jy maar die agterhekkie dophou: nie te lank nie, of daar kom hulle aan, Boeta se geel skoolhempie styf vasgehou by die kraag onder sy ken, en die ander arm beskermend om sy maag gevou. Dan weet jy daar is nou weer ’n sweepslangetjie daar binne. Die slang is dan kans gegee om eers behoorlik onder die hemp te kronkel en te probeer ontsnap, dan deeglik bekyk en bewonder en in ’n boks gesit, maar omdat die gedierte nie in die huis toegelaat is nie, het hy altyd daardie nag buite ontsnap, hoe dig hulle ook al die boks toegemaak het.

Eendag is dit weer sulke tyd, groot opgewondenheid en blink oë en lag en praat, en huiswerk uitstel om eers langsaan hulle vonds te gaan wys. Meteens hoor ek ’n helse slag, en toe vreesaanjaende gille. Haas my na Piet Buurman se huis, en daar kry ek vir Doreen, histeries en half mank. Blyk toe sy het voor die naaimasjien gesit en hier kom die twee kinders die kamer in, en toe Boeta die hempie so oopmaak en hier peul die slang uit, slaan Doreen reg agteroor! Daar glip die slang uit, onder die meubels in, en dis ’n geskarrel en gegil, want die sussie kom toe ook nog by.

Nou ja, die slang is darem gekry, maar daarmee saam talle dreigemente, soos "Ek sal julle twee vrek slaan!" of "Julle gatvelle aftrek!" en sover ek kan onthou het die slangvangery sommer ook daar opgehou.

Ja, daardie was nog lieflike tye, die avontuurlus van die kinders so onskuldig, en die wêreld vir hulle nog veilig en ongekompliseerd ...

Groetnis

Gerrida

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top