Bokomo-brekfisbrief; 07/04/2010: Hierdie week - 31 Maart 2007

  • 0

Volgens die Huisgenoot en Rapport het my planete, komete en mane in ‘n swart gat gedonner ... daarom moet ek hierdie week wakker slaap ...

Die eerste teken van ernstige sake was Maandag oggend se tweede pasiënt wie in die teenwoordigheid van drie piepiepotte in die toilet besluit om in my drinkbeker te p*s - op die verkeerde tyd van die maand. En die spreekkamer is stampvol ernstige siekes.

Terwyl ek opblaas om wapens van massavernietiging in toom te hou, verskyn daar ‘n ongure onbekende karakter Cronje met ‘n sterk klank van drank en peperment vir ‘n PDP (bestuurspermit]) ondersoek. Maar ek moet ‘n sekere 'DOKTER J de Swart van Jeffreysbaai' bel wie belowe het om die R150 te betaal vir die ondersoek. Hy skakel op sy selfoon en ‘n saaklike stem sê jaaaaaa hy is ‘n chirurg en bly in Jeffreys en werk in Humansdorp as chirurg. Ek moet my bankbesonderhede stuur, dan sal hy sommer dadelik die man help wie hy eendag ‘n lift gegee het. Dit sal so twee dae vat. Ek voel soos ‘n muis in ‘n gat vasgevang: ek moet my bankinfo vir ‘n wild vreemde gee en my handtekening op ‘n sertifikaat vir iemand wie opvallend nie kwalifiseer vir openbare bestuurslisensie nie. Nog meer WMV wel in my op ...

Toe hou ek sy sertifikaat terug en fax my rekening, maar met ‘n foutiewe banknommer. Woensdag bel 'dr J de Swart' my om te vertel dat my banknommer verkeerd is ... en ek gaan soek op HPCSA se webwerf vir sodanige dokter en kan so ‘n naam glad nie kry nie: nie in die land nie of Jeffreysbaai of Humansdorp nie. Glad nie so ‘n van op register nie, ook nie by BHF [RAMS] nie!!

Donderdag kom sien ‘n 15jarige pasiënt my by die kliniek onder dwang van sy besorgde ma en ouma. En ‘n hele opstel/prosa/novelle/bal-vir-bal-kommentaar is op die kliniekkaart van sy probleem. Hy't naamlik las van voortdurende ereksies dag en nag en wil niks anders doen nie ... Hy't self opvallend geen las daarmee nie net sy naastes het. Diagnose: ‘Stywe piëlitis' in Latyn. Toe kry hy ‘n stywe dosis Moducate* en is daar weg totaal ongeërg. (*moerse sterk goed vir geestesversteurdes).

Die middag 17h00 staan daar skielik ‘n vreemde snikkende natgeswete mamma met haar dooie baba in die arms by my hek by die huis. Gastro plus aptekersmedisyne - totaal dehidreer marasmus. Beterhelfte het haar huis toe gevat want sy het vir minstens 2 km gehardloop met die sterwende baba. Later die aand weer een bewusteloos na eerste dosis aptekersmed maar darem nog lewendig en kon die hospitaal lewend haal. Trane, weemoed, patos en nat oë.

Vrydag aand kollabeer ‘n onbekende diabeet by die huis met koronêre infarksie en/of longembolus dat sy naastes hom letterlik by die spreekkamer voete insleep. Geskok en bloeddruk saam met pasiënt ‘oppie grond' net-net lewend - na klomp medisynes kon die ambulans ipv AVBOB hom wegneem na beter sorg. As hy wil uitpass dan klap sy vrou hom links en regs vuur warm en skree terwyl sy op die selfoon praat - onophoudelik.

Saterdagoggend se eerste was ‘n sterwende kleuter met erge dehidrasie van gastro plus apteekmedisyne omtrent 'gasping'. Na 400ml infuse in die tibia kon die ambulans haar ook na beter sorg toe neem. Toe ook nog ons plaaslike ondernemer met diabetes, maligne hipertensie en nierversaking en nog ‘n gastro baba wat aanhou braak tsv die medisyne.

Nou praat ek nie van die 150 ander gevalle vd week nie. Helfte TB/HIV pensioene, condiloma accuminata (vratte) vd anus, twee fekale impaksies ens. Plus die gewone hordes einde -vd-maand-kansvatters so by wyse van afwisseling.

Saterdagmiddag tydens die ergste reënstorm die seisoen bel die polisie my vir ‘n ernstige noodgeval. Dis toe meneer ereksie wie so bietjie uitgeskop is deur die Moducate kla dat sy hele lyf nou slap is ... Na ‘n gesukkel kon ek darem vasstel dat sy MA en OUMA se oorspronklike probleem verdwyn het. Ek gaan hom elk geval psigiatrie /neurologie toe stuur. Breintumor?

Dis toe dat ek besluit om die week in my anale op te skryf.

Huisarts

NS Ons het ‘n absoluut skitterende ambulansdiens - ondenkbaar sonder die manne. (2007)

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top