Bokomo-brekfisbrief; 07/03/09: Stateline-hangkaste is nie jou speelmaat nie

  • 0

 

 

Ek onthou hierdie episode waarvan ek nou skryf nog goed. Ek en Goggie was jonk getroud, seker nie eens ʼn volle jaar nie. Ek kry toe mos werk by die nuwe Sasol in Secunda.

Noodgedwonge trek ons tydelik in ʼn "Pre-fab" huisie by Silkaatskop in. Lekker gerieflike huisies, as jy nie twee massiewe Stateline-hangkaste saamgebring het nie. Ons het nie geweet dat die goed nie genoegsaam in die gang sou kon draai om in die hoofslaapkamer te pas nie. Die enigste opsie was dus om die twee massiewe gedoentes in die oorblywende kleiner kamer, regaf in die gang, te stoor. Die goed het ook maar net-net daar ingepas.

Jong getroudes is mos maar in die begin ʼn bietjie hakerig met mekaar wanneer die skille van die ogies begin afval en die eens perfekte maat nie meer heeltemal foutloos is nie. Sy vind uit dat ek nie regtig so gereeld drink net oor ek bly is dat ek haar gekry het nie. Ek vind weer uit dat daar ʼn ding is soos "die weiering van huweliksregte", wat nogal ʼn baie drastiese stap van haar kant is net om ʼn argument mee te wen.

Uit pure bittergeit oor die vorige aand se huweliksregte-onding, kuier ek op pad huis se kant toe eers by ʼn paar vriende. Ongelukkig is dit een van daardie dae dat die alkohol verkeerd werk. Plaas van vroliker voel, maak dit my net meer omgekrap oor die "onding" wat my lewe kom versuur het.

By die huis kom ek agter dat sy (Goggie) ook seker in ʼn slegte bui is, want die deur is gesluit. Geen probleem nie, ek het mos ʼn sleutel. Maar net die blote feit dat sy ook knorrig is, maak my sommer meer lus voel vir ʼn fight.

Binne in die huis is daar geen teken van haar nie en ek wonder waar sy kan wees? Dan val my oog op die toe deur van die kamer aan die ent van die gang. Ek klop aan die deur, maar sy weier om oop te maak. Ek klop weer en dreig sommer om die deur oop te breek as sy nie nou dadelik oopmaak nie.

Sy weier woordeloos en ek tree terug in die gang. Met mening storm ek daardie deur, en met die laaste halwe tree gooi ek my regterskouer vir meer krag ook sommer vorentoe. Die deur was sekerlik nie op knip nie, want dit vlieg met ʼn moerse vaart oop en ek ontmoet met my uitgestrekte skouer die twee Stateline-hangkaste en skuif altwee tot teenaan die muur.

Lateraan, toe Goggie terugkom van die buurvrou af en my vra hoe ek dit reggekry het om alleen die hangkaste (ons kon dit nie saam voorheen tot teenaan die muur geskuif kry nie!) so netjies teen die muur maak pas het, antwoord ek nie. Plaas daarvan vertel ek vir haar hoe ek my skouer daardie dag by die werk seergemaak het. Sy vertel vir my dat sy ʼn harde slag gehoor het en gedink het ek is dalk kwaad oor iets.

Ek?

Op dieselfde dag leer ons toe sommer nog ʼn les. As jou liefie jou skouer klaar met Deep-Heat ingesmeer het en julle raak as gevolg daarvan romanties - WAS EERS DAAI HANDE!

Stateline-hangkaste is geen grap nie!

Groetnis.

Neels (Husky) Visser

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top