Wie rook nog pyp?
Die tabakwinkeltjie in Menlyn hou nie eers meer pype aan nie. Wesley's in Johannesburg verkoop nog ʼn redelike verskeidenheid pype, maar verder weet ek nie ...
In die middel tot laat 1980s was daar ʼn wonderlike tabakwinkel in Die Meent wat deur ʼn Duitser bedryf is. Hy het ʼn wye verskeidenheid pype gehad, van goeie "no name brands", tot die groot name soos Savinelli, Peterson, Georg Jensen en so aan. Hy het ook ʼn groot sigaarafdeling gehad waar ʼn mens onder andere ʼn verskeidenheid Kubaanse sigare kon kry.
Daar was ook elders in Pretoria tabakwinkels waar ʼn mens allerhande Britse, Duitse en Skandinawiese pyptabak kon kry. Die winkeltjie in die Arcadiasentrum het Kaiser-pype gehad, en die een in Sunnypark het selfs pruimtwak aangehou. Snuiftabak kon ʼn mens selfs by apteke kry.
Daar was klein pypies en elegante panatellas vir vrouens wat die selfvertroue gehad het om dit te rook.
Dit was seker om en by 1990 dat pype al hoe duurder geword het. Miskien het sanksies ook ʼn rol gespeel. Hoe ook al, R2000 vir ʼn Savinelli was destyds groot geld.
Deesdae kan ʼn mens met ʼn bietjie moeite vir ʼn paar honderd rand ʼn goeie pyp kry - maar wie koop dit nog?
Sigare bly ʼn statussimbool - selfs klein sigaartjies is buitensporig duur. Sigarette sien ʼn mens nog orals - stink en onaptytlik, met die slegte reuk wat aan alles vassit.
Maar hoeveel pyprokers het jy die afgelope paar jaar gesien?
Gerhard


