Bokomo-brekfisbrief; 06/12/2010: Graffiti

  • 0

Sit en wonder, hier waar "kuns" teen mure (gekke en dwase skryf hul name op deure en glase) half aan't uitsterf is: Wat het geword van behoorlike graffiti? Nee, nie die tipiese Kaapse "jou ma se ..." nie. Behoorlike proteskuns teen mure en snelweë en prominente landmerke. En nee, ek praat nie van die Americans se gebiedafbakening soos ʼn spulse hond nie. Ek praat van behoorlike spuitverfkuns soos destyds teen die staat se geboue en snelweë en treinstasies. En nee, nie spuitverf bloot om skade te doen nie, want selfs ʼn bobbejaan kan iets vernietig, ek praat van spuitverf in die nanag omdat jy teen die regime is. Ek praat van spuitverf op ʼn behoorlike manier omdat jy fanaties is oor die aarde of oor die minister of oor die walvisse of haaie of rondloperhonde. Mmmmmmm, dalk is die Americans net so fanaties, nè?

Tog, dis asof daar "method" in ons malheid was destyds toe ons op elke pilaar vir PW ʼn boodskap geverf het van die lughawe af tot by sy hotel. Genadiglik praat ek onder ʼn skuilnaam, nè? Ek onthou die nag wat ons vir Pik ʼn mooi boodskap gespuitverf het teen ʼn skool se aansig en vir Louis Nel sy gewilde teken gespuitverf het.

Ek onthou vir T wat vir Che met ʼn spuitkan kon teken teen ʼn muur beter as die beeld op my gunsteling T hemp. Ek dink terug aan die tyd toe die gebalde vuis iets vir iemand beteken het. Ek wonder waarom die kuns van protesverf vervlak is tot pis teen ʼn lamppaal?

Ouderdom bring inderdaad nie wysheid nie, dit maak jou net meer fanaties, want jy wil die mure spuit teen die huidige spul kriminele maar jy kan nie meer so vinnig hol soos destyds toe die geel Hilux Vans jou gejaag het nie. Want die pote loop nie meer met knuppels rond vandag nie, hulle loop met ʼn wrok in die hart rond. Protes teen ʼn wrede regime is nie meer regverdigbaar nie, maar is deesdae "teen die burgery" en onpatrioties. As jy die regime kritiseer kan hulle met jou werk soos hulle destyds met Steve Biko gewerk het. Snaaks hoe min dinge inderdaad met die stap van die horlosie verander, nè?

Tog, ek wens ek kon op die pad terug stap en die pad van ons spuitkannetjies volg. Ek wens soms ek kon foto’s neem van T en O en G en K (en HM, hehehehe) se "kunswerke". Want dit was nie bedoel as kuns nie maar om ons stille protes aan te teken.

Ek ry nie meer trein nie, want Me Ramos het Oesterland se treine (wel, sy het die totale spoorinfrastruktuur vir skroot verkwansel) tot niet gemaak en is vereer daarvoor met ʼn groot pakket en helde aansien. Tog, ek ry trein as ek my Wonderland vir ʼn week of wat moet verlaat en ek kyk na die spuitkanne se manne se handewerk en al haat ek die verniel wens ek soms ek kon weer saam in die donker sluip om my boodskap op die muur te plaas. Al was dit net om weer ANARCHY! op ʼn muur iewers te spuit.

En nee, ek besef dit kos iemand iewers iets, maar dit was hoe ons protes aangeteken het. Iets seg vir my dat ons klogoete binnekort weer gaan spuitverf, want hierdie regime is baie, baie meer boos as die slegste uit die verlede. Revolusie word nie noodwendig met wapens gevoer nie. Rewolusie teen boosheid is veronderstel om in jou gene te wees, dit is jou plig as lewende wese, want net iemand wat tevrede is kan onderdruk word. Net iemand wat ‘n stelsel ondersteun kan verantwoording doen vir so ‘n stelsel se wandade.

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top