Bokomo-brekfisbrief; 06/11/2010: Van Ethiopië tot in Zambië - deel 1

  • 0

Ons ekspedisie is amper op ’n einde en ons is net noord van Lusaka in Zambië.

Trans-Afrika Roete Lusaka.jpg

Net gou ’n paar vertellings sedert ons vorige skrywe. Ethiopië is werklik ’n pragtige land. Na die woestynbelewenis in temperature van meer as 40º C was Ethiopië met sy groen velde en lande van bestaansboere werklik ’n wonderlike gesig en vir die eerste keer in ’n lang tyd het die Cruiser se temperatuurmeter weer onder 30º C gesak. Ek dink ons almal se indrukke van Ethiopië is gebaseer op die tonele van verhongerde kinders wat verwese rondstaan wat ons in die tagtiger-jare op televisie en die koerante gesien het. Ethiopië is egter ’n pragtige groen land met honderde bestaansboere.

Na ’n moeisame grenskruising vanaf Soedan na Ethiopië het ons eers na donker vanaf die grenspos vertrek. Om die waarheid te sê moes ons ligte aandra na die doeanekantore sodat die papierwerk afgehandel kon word anders sou ons noodgedwonge by die grens moes oornag. Na ’n heerlike verfrissende slapie in die veld net anderkant die grens het ons na Gonder met sy pragtige kasteel vertrek.

Bekende Ethiopiese leiers het in die kastele in Gonder gewoon. Ons is deur ons gids vertel van die heersers wat hier gebly het en hulle verbintenis met niemand anders nie as Salomo van Bybelse faam. Alhoewel Ethiopië heelwat Moslem-godsdienstiges het, is die meerderheid Ethiopiërs egter Christene – dis nou Ortodokse Ethiopiese Christene. Volgens oorlewering was die Koningin van Skeba ’n Ethiopiër en het sy na haar besoek aan Salomo meer as net ’n paar geskenke ontvang! Salomo het haar ook met ’n broodjie in die oond gelaat en die seuntjie wat later gebore is was die eerste van ’n lang rits direkte afstammelinge van Salomo wat in Ethiopië geheers het. Die bekende Haile Selassie is kwansuis ook uit hierdie bloedlyn gebore en verklaar dan ook die Ethiopiërs se belangstelling in die Judaïese godsdiens en dan ook later die Christelike godsdiens. Oral sien mens standbeelde en afbeeldings van leeus wat ’n verwysing is na die leeu van Juda en die verbintenis met Ethiopië is eenvoudig: Dawid→Salomo→Menelik 1 →→→Haile Selassie. Omdat Jesus dan ook uit die geslag van Dawid kom is die aanhang van die Christelike godsdiens ’n logiese stap.

Vanaf Gonder het ons na Bahir Dar aan die onderpunt van die Tana meer gery. Die Blou Nyl het sy ontstaan by die Tana meer en ons het na ’n paar  Ethiopiese Ortodokse Kloosters gaan kyk wat op eilandjies in die meer gebou is. Die kloosters is binne-in kleurvol beskilder met uitbeeldings van Bybelse verhale. Die priester kon net Amharies praat en hy het die skilderye uitgewys terwyl ons van ’n papier afgelees het.

Ons het ook na die Blou Nyl valle, so ongeveer 35 km vanaf die ontstaan van die Blou Nyl by die Tana-meer, gaan kyk.

Hiervandaan het ons na Addis Abeba gery waar ons ’n paar dae sou vertoef. Die pad na Addis Abeba loop deur die Blou Nylvallei met ’n ravyn wat al met die Grand Canyon vergelyk is asook oor ’n paar hoë passe. Ons GPS het ’n hoogte van 3 120 m by die hoogste punt aangedui. In Addis Abeba moes ons die voertuie laat versien en broodnodige herstelwerk doen omdat die slegte paaie maar hulle tol begin eis. Ons Cruiser se agterste skokbrekers is sodanig uitgewerk en beskadig dat albei vervang moes word. Die olie moes vir oulaas afgetap word en al die olie-, lug- en dieselfilters moes vervang word sodat ons die lang pad terug Knysna toe met geruster harte kan aanpak. Daar is toe egter geen skokbrekers in Addis Abeba vir die Cruiser te vinde nie en ons sal maar so moet klaarkom tot by die huis.

Addis Abeba is natuurlik ook die tuiste van Lucy, ’n homonied wat so ongeveer 3.2 miljoen jaar gelede die aarde stof getrap het hier in Ethiopië. Lucy se gefossileerde oorblyfsels is in die Afar versakking gevind vandaar dus die wetenskaplike benaming van Australopithecus Afarensis. Vir baie jare is Lucy beskou as ons oermoeder maar soos wat meer kennis d.m.v. paleontologiese ontdekkings gedoen is, is vasgestel dat homo sapiens sapiens langs ’n aparte vertakking van die homoniedes ontwikkel het en dat Lucy hoogstens ’n oertante van ons kan wees. Dit was egter steeds baie interessant om die Nasionale Museum, teen die prinslike som van R5 toegangsfooi, te besoek en die oorblyfsels van hierdie ouerige familielid van ons te sien. Die bewyse is oorweldigend dat homo sapiens die eerste lewenslig hier in die ooste van Afrika aanskou het en ons hou met belangstelling verdere ontdekkings in die groot skeurvallei dop.

Ons het een aand tradisionele Ethiopiese kos gaan eet. Mens eet dit met jou regterhand en breek ’n stuk injera af en vou dit dan om die kos en skep dit so op tot in jou mond. Die kos is baie lekker en ons het onsself gate uit geniet. Die foto hieronder wys die kos. Die opgerolde “lappe” is die injera waarmee jy die kos opskep en word van gemaalde tef gemaak.

 Tradisionele kos.jpg

Terwyl ons moes wag vir die herstelwerk aan die voertuie het die tweetjies van ons met die jeukerige agterstewes besluit om ’n ekskursie per vliegtuig, met Ethiopian Air, na Lalibela en Axum in die noorde van Ethiopië te onderneem. Wat ’n absolute ongelooflike ervaring het hierdie jeukerigheid ons nie besorg nie. Die beste is dat die hele petalje ons niks gekos het nie omdat die totale koste van die ekskursie uit ons kinders se erfporsie gefinansier is!

Vervolg ...

Thomas

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top