Bokomo-brekfisbrief; 06/09/2010: Vandag is eendag

  • 0

‘n Vriendin se kommentaar onlangs oor ons ‘oues van dae’, het my eers laat lag. En toe laat huil …

Al kan jonger mense dit dalk nie verstaan nie, selfs ons oues van dae was hot op ons tyd … En in ‘n mens se hart bly jy maar steeds die hottie van toe.

Maar dan kyk jy af oor jou plooiknieë en weet jy is way past your prime. En dan huil jy ‘n traan. Want jy weet die dag wat amper om is, is nog 29,000 – 1. Het julle geweet ons leef maar gemiddeld net 29,000 dae? Ek trek nou so rondom die 20,000, so ek het nog genoeg woema om te doen wat ek voor lus voel. Mens raak net rustiger, en vredig. Tevrede met wat jy het en miskien meer belangrik, tevrede met wie jy is.

Maar dan hoor jy elke dag van nóg een van jou tydgenote – wat voel soos voortydig – wat nie meer met ons is nie. Die een na die ander van my vriende kry kanker en hartaanvalle. My skoonseun het al sy hartomleiding gekry. Dit alles maak 'n mens so dankbaar vir jou eie gesondheid - plooiknieë, grys hare en multifokale en al.

Lééf mense! Daardie 29,000 voel of dit al hoe vinniger aftiek. Dóén dinge. Moenie goed vir eendag bêre nie. Ek is verbitterlik dankbaar dat ek in ‘n posisie was om 99% van die goed op my eendag-lysie te kon aftiek.

Dink vinnig aan drie dinge wat jy nog wil doen. Skryf dit neer. Moenie nou bekommer oor hoe jy dit gaan regkry nie. Dink dit uit, en skryf dit neer. Sommer vir jouself.  Eendag begin nou. Eendag IS nou.

(As jy dit hier op SêNet kom skryf, dan is ons almal getuies!)

MaanKind

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top