Bokomo-brekfisbrief; 06/06/08: 'n Reis deur Suid-Afrika

  • 0

Toe ek as kind in Marabastad opgegroei het, het veral een ding my opgeval. Die tradisionele getooi van Ndebele-vrouens op 'n Sondag, en mans met hul fietse "spick & span", wat die ntombi’s wou beïndruk.

Deesdae is dit moeilik om die vroue in die drag te sien. Behalwe as jy Kwandebele of Pelgrimsrus sou besoek. Dit bring my by 'n baie interessante punt, naamlik die Suid-Afrikaanse reistydskrifte en rubrieke.

In Weg sal Dana Snyman so wan en dan afwyk na die verlede. En op hul laaste bladsye het hul gewoonlik 'n foto van 'n plek hoe dit in die verlede gelyk het en hoe dit nou daarna uitsien.

Die tydskrifte skryf te veel oor wat jy kan sien. Wat van jou ander sintuie om te hoor, ruik en net waar te neem?

Toerisme gaan oor mense. Net so reis. En dit is verbasend hoe Suid-Afrikaners iets sal beskryf of beduie.

Vat byvoorbeeld die Noord-Kaapse platteland. Van die ouergeslag bruin omies sal nog aan hul donkiekar vasklou. Sy hoed met die veertjie sal nooit agterbly nie. En wanneer jy iets vra, sal hy beleefd antwoord met meneer of mevrou. Maar daar is iets uniek. Of dit Britstown, Keimoes, Springbok of Carnavon is.

Hulle sal jou altyd sê iets of 'n plek is net daar anderkant die bult. Ander sal waag en sê – doer, daai bult aan die "regse" of "linkse" kant.

Ervaring het al geleer dat, indien jy rigting in KwaZulu-Natal soek, is 'n taxibestuurder of 'n garage die beste aanklopplek. Jy kan lelik vasbrand indien jy van die locals uitvra en 'n stuurse "I dunno that place" as antwoord kry.

Tog kan jy lag. In Eldoradopark kan iemand struikel en stamel met die Engels. Tot jy ewe simpatiek sê: "Jy kan Afrikaans praat."

Wat egter nog by my spook, is hoe Mosambiekers en verskeie Oos-Transvalers dig toegegroeide omgewings beskryf. Dit is die "tall grass".

En dan kom jy in Danville en 'n lelike vet wit seun sê vir jou: "Klim in jou kar en kry pad voor jy kak." Dit is duidelik dat daar nog rigtingwysing in Afrikaans nodig is.

Gelukkig is die grootste gedeelte van ons paaie goed gemerk met inligtingsborde.

En vir die grap: Iemand is in KwaZulu gevra vir ZZ Top. Ewe onskuldig sê die petroljoggie hy het nog nie die plek gesien nie. Ask da boss.

Yuri

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top