Bokomo-brekfisbrief; 06/05/09: Die skaakbordpaaiboelie

  • 0

 

 

Terwyl ek vanoggend rustig sit en lees in my studeerkamer, is daar 'n klop aan die deur.

"Binne, Elsi, en sit sommer die skinkbord daar op die lessenaar neer," sê ek sonder om op te kyk.

"Dis nie Elsi nie, oom, dis ekke," praat 'n heserige stem. In die deur staan ons buurman se seun, Willie Wysneus, met 'n pakkaas onder die arm.

"My mastig, Willie," sê ek kastig opgewonde om hom te sien, "kom binne, en wat het jy daar onder die arm?"

"Veels geluk, oom, met oom se verjaarsdag, en dit is 'n present vir oom," en hy plak die spul hout op my lessenaar neer. "Dis 'n skaakbord, oom, wat ek in stukke gesaag het," sê hy ewe kordaat.

(Die mannetjie moet nou nie met my kom sukkel vanoggend nie. Ek weet sy ouers is goeie Christenmense en ek het al partymaal gewonder waarom hulle hom nie al met klippe reggesien het soos die Bybel beveel nie.)

Toe hy sien dat ek my half vererg, skuif hy gou die stukke reg en toe lyk die skaakbord so:

 

 

"Kyk, Wysneus, met dié ding kan ek mos niks doen nie," raas ek terwyl ek Origin of Species haastig toeklap.

"Oom weet mos, ʼn skaakbord het 64 blokkies," begin hy verduidelik.

"Ja, man, ek kan nog st 2-somme doen; 8 x 8 = 64, maar wat daarvan?" raas ek nog terug.

Vinnig skuif hy die stukke hout rond, en toe lyk dit so:

 

"Nee wat, Wysneus, daarmee kan ek nog minder skaak speel!" En ek gryp weer na Origin of Species.

 

"Maar Oom het nie mooi gekyk nie. Hoeveel blokkies het hy nou?"

"Natuurlik nog net 64, hoe kan dit dan anders?"

"Oom is heeltemal verkeerd. Werk weer uit, Oom!"

"Kyk, Wysneus, julle kan deesdae nie meer somme maak sonder ʼn rekenaar nie. Wag, laat ek jou wys. Sien jy daar is dertien blokkies dwars en vyf blokkies op? Nou ja, 13 maal 5 is gelyk aan, vier en ......, wag so ʼn bietjie! Dis sowaar 65 blokkies!"

Verslae gaap ek hom aan.

Nou moet al die slim Bokomo-brekfisbriewers my asseblief help. Een van die dae is hy weer hier, en dan moet ek aan hom kan verduidelik wat aangaan met hierdie skaakbord.

Groete

Angus

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top