Oupa was 'n penkop in die rebellie en is saam met genl Kemp tot teen die Suidwesgrens gejaag deur regeringsmagte.
Een middag vra generaal Kemp vir oom Klasie (Siener) om ‘samblief met die manne oor God's woord en rook te praat aangesien hulle dampe 'n myl vêr gesien, en twee myl vêrder geruik kan word. Dít terwyl hulle langs die Oranjerivier probeer wegkruip het vir die alewig soekende regeringsmagte.
Siener was van gewoonte 'n stil en bedeesde man, en alhoewel hy die Boereoorlog deurgeveg het, was hy nie juis bekend vir sy dapperheid in die aangesig van die vyand nie. Hy het dus sy taak met ywer en die vrees vir ontdekking aangepak.
Onder generaal Kemp se toesig het die manne in 'n kring in die bloedige son om oom Klasie vergader, en dié het met onnodige harde woorde die rokers tot in die hel en terug gepiets met God's woord. Die manne was gehawend en moeg. Hulle klere aan toiings en skoene gedaan. Net die vorige dag het hulle met hul lewens daarvan afgekom, dit na die regeringsmagte hulle onverhoeds betrap het en hulle slegs met die klere aan hulle lywe ontvlug het.
Diep ootmoedig het hulle dan ook geluister en kopknikkend ingestem oor God's swaar straf wat wag op die rokers onder hulle. Na die begeesterde woorde deur oom Klasie het hulle mekaar vêrder die straf der strawwe belowe sou één dit weer waag om 'n pyp aan te steek.
Behalwe oom Hans van Blinkwater. Hy was nou nie juis ingenome om van sy rooklus geskei te word nie en het ingedagte sy pyp uit die baadjiesak gehaal en op een van die swartklippe neergesak.
Nou, almal weet hoe warm daardie geweste oor die middaguur word en dat daardie swartklippe so goed soos 'n stoofplaat is. Oom Hans se broek was ook gedaan, en by die bas byna deurgeskuur en geskeur. Met die sittery van hom glip sy oudstryder saam met die sakkie aartappels waarop hy rus dan nou ook uit, tussendeur een van hierdie broekskeure, en kom in aanraking met die rooiwarm swartklip. Volgens oupa het oom Hans drie voet die lug ingespring terwyl hy kwaad-kwaad geskel het:" Ag nee, Here! Was dit nou nodig, ek't hom nog nie eers aangesteek nie."
Swerwer


