Die meeste kinders ontgroei so rondom puberteit hulle allergieë. Ek, aan die ander kant, het op die rype ouderdom van 25 nog nie ontslae geraak van die kruis wat allergieë is nie.
Dit gebeur dus soms sonder waarskuwing dat my bors toegaan, ek onbeheersd begin nies, dat ek wild begin krap, of die ergste, dat my oë bottoe swel. Laasgenoemde lei (ly) dan tot tydelike blindheid.
Dit sal nooit gebeur terwyl ek doodrustig by die huis sit en chill nie. Dit sal altyd manifesteer op die mees ongeleë oomblik, soos as mens sit en fliek saam met ʼn mens se splinternuwe girlfriend, of as mens wil ry om te gaan goed koop om te kan braai.
Gewoonlik swel my oë net toe as ek per ongeluk ʼn neut ingekry het. Mens kan dan rêrig niks daaraan doen nie. Dis heeltemal onmoontlik om oogdruppels in jou oë te kry as hulle so toe is. Dis ook te seer is om hulle te vryf. Die beste is maar om te gaan slaap, jou oë is in elk geval reeds toe.
So, ek probeer al baie jare om ʼn suksesvolle musikant te wees. Elke jaar gaan ek (ons) KKNK toe, met die hoop om die groot break te vang en famous te word en op te hou werk. En elke jaar spandeer ons baie tyd aan mense ontmoet, met die hoop om daai magic kontak te ontmoet. Al wat ons dan kort is ʼn hit en dan is ons daar. Dis mos maklik.
Een van die aktiwiteite op hierdie trippies van ons behels die inname van ʼn sekere Duitse kruielikeur. Hoewel hierdie spesifieke likeur wondere verrig vir allerhande kwale, soos byvoorbeeld stage fright, maagkwale en gebrek aan gees, het dit ook, blykbaar, die newe-effek dat dit motoriese vaardighede en goeie oordeel inhibeer.
Een laataand, in ʼn bekende restaurant op die Volstruisdorp, kry ek op een of ander vreemde manier ʼn neut in en my oë swel bottoe. Gelukkig het ek nog my sonbril by my van die middag af, en ek sit toe sommer dié op. Ek wil mos nou nie die mense uitfreak met my oë nie, verstaan?
So terwyl ek besig is om soos Bacchus Nel - nie Ray Charles nie, hy speel klavier - te sit en lyk, word ek deur my neef Etienne ontdek. Heel toevallig, want ek het sit en hoop iemand kry my daar. Etienne het toe ʼn lang sug gegee en vir my ʼn vars dop gaan koop om my besig te hou terwyl hy die res van die orkes loop soek.
Om gelyk blind en effens onvas op jou voete (verwys na die Duitse Kruielikeur) te wees, is ʼn uiters surrealistiese ervaring. Ek verstaan nou hoekom Jamie Fox so rondgeval het in die fliek. Mens kan nie sien waar jy loop nie. En mens besef nie hoe ongelyk grond is voor jy nie eers blind is nie. Mens ontwikkel later die kuns om net elke derde keer te vloek as jy jou toon teen die geringste klippie, drumpel of worshond stamp.
Ek het begin navorsing doen oor hoe goed die Duitse kruielikeur werk vir toe oë, maar ek kon tot op hede nog nie enige noemenswaardige gevolgtrekkings maak nie. Om ʼn lang storie kort te maak, toe Etienne uiteindelik die hele orkes en vir my op dieselfde plek het, het ons begin aanstryk tentedorp toe.
Ek het bewus geraak daarvan dat dit nie net ons was nie. Ek vermoed ons vriende van Die Helde en Zinkplaat het ook saamgeloop. Daar was ook ʼn klomp meisies, wat ek heelaand nie gesien het nie, wat ook geloop en lag het.
En soos wat ons loop, begin die ander mense gat maak met my. Hulle het allerhande posters om my nek gehang, my in pale vasgelei en dan wild askies gevra, of hulle "vergeet" om my te sê van die sypaadjie en dan wetter ek neer ensovoorts ensovoorts. Ek het later nie meer hoop gehad om te lewe tot ek die dag doodgaan nie. Ek was heilig oortuig die bliksems sal my voor ʼn kar ook ingooi.
Hoe meer hulle die arme blinde man (dis nou ek) martel, hoe meer mens loop saam. Die een lot wil hulle doodlag en die ander lot wil hulle doodskaam, en ek vrees vir my lewe. En ek hoor net kort-kort, haai shame, moenie so lelik met Bacchus Nel wees nie! Dan sê die lot wat lag, nee man, dis Kaalvoet van Dikazzins, en dan begin die skaam spul ook lag. Dan lag almal, tot daar weer ʼn klomp skames opdaag.
Asof dit toe nou nie erg genoeg is nie, keer die polisie ons toe voor. Of ek dink dit was hulle, want dit het so geklink. Ek slaan toe onmiddellik in ʼn sweetjie uit, want ons is net die vorige week, toe ek nog kon sien, gearresteer vir "oproerige gedrag en publieke urinasie" en die polisieselle is vir seker geen plek vir ʼn blinde man nie.
Maar toe sê die polisieman: "Menere, WAT GAAN HIER AAN?"
Anton Angsaanval, ons trommer, verduidelik toe: "Sersant, ons het sy Labrador verloor. Het julle hom nie dalk gesien nie?"
KJ du Toit


