Bokomo-brekfisbrief; 06/01/10: Sand van herinnering

  • 0

Wat is 'n vakansie sonder 'n strand? Ai, en hoe het die menigtes nie in sonskyn en soutsee gebaljaar nie. Ons het self van die tuinroete se bestes gaan beman/vrou. Ek, bewapen met my faktor 50 wat my permanent laat lyk asof ek 'n spook gesien het, sonsambreeltjie inderhaas by die Mall se Mr Price gekoop. Wel, die het toe na die tweede probeerslag darem gewerk (ja, hulle gee jou jou geld terug as jy gaan inruil). Na week drie pas die bikinistraps mooi tussen die voue op my boude en is maag intrek net nie meer moontlik nie (al daai tamatiesous bedruipte chips by Vicbay, en die onverbeterlike pizza by Pomodoras). Ek kan duisend stories skryf oor duisend mense soos waargeneem agter my cheap sonbrille. Die man wat by my verbystap, tattoo van 'n doringdraad om die bo-arm, agterop sy Speedo (wat uitsteek onder sy broek) staan "endurance"... sy baggy broek verkondig weer "willy nilly"... nee wat, dis weersprekend 🙂 Die tannie sonner die tanne wat probeer om 'n Magnum Almond se harde sjokoladedop af te byt met haar lippe, die menige poging om, so nonchalant moontlik, die baie ingewikkelde strandtentjies op of af te slaan, die ewige geveg met die wind en die sand en snotneuskinders wie se blomcozzies semi-permanent onherkenbaar vol nat sand is. Die dik omies met te veel selfvertroue en die maer tannies sonder enige. Die laatmiddaggety wat, tot almal se geheime vermaak, die voorsitters se handdoeke opkoek, hul kameras, southappies en brille opneuk en hulle net die moer in maak en druipstert (drupstert?) huis toe jaag.

Dis blerrie duur, het ek weereens besef, om jou huis se gemak te verlaat vir 'n muwwerige strandplekkie. Jou heeltyd te bekommer oor jou Gautenghuisie se inbreekbaarheid, terwyl jy die ongeprysde bottels drank (natuurlik verdubbel alle pryse spesiaal vir Jesus se verjaarsdag) in jou kreunende trollie pak, saam met al die ander eetbaarhede wat Atkins tot pille sou dryf ... en waarvoor jy al heeljaar jou uithonger ... Tinkies, vetterige Karootjops, muffins en croissants. Ek is heilig oortuig daarvan dat daai Mall se Woollies foods eienaar nou kan aftree by een van sy mansions in Oubaai.

Volgende jaar nog 'n see, nog sand, nog vreemde bekendes ... daar is niks nuuts onder die son of op die strand nie ...

Angelina

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top