Bokomo-brekfisbrief; 05/12/08: Molle en Katriena

  • 0

 

 

Ek sien jy het jou molprobleem uitgesort, Ludolf. Vir molle het ek nie regtig raad nie synde ons duinemolle nie meer regtig ʼn probleem is nie. Danksy een enkele dame wat jare terug die probleem opgelos het.

Katrien was haar naam. Katrien van Daniel. Soms word die van sommer so langs die pad verloor en word jy sommer Piet van Groot Piet of Piet Ruiterbos of Piet Bosbyl. Vanne is mos maar net goed vir getjapte vorms en amptelike besigheid. Ek weet dat Katrien se van Syfers is, bloot omdat ek een dag vir haar hoeka so ʼn "Amptelik/Official"-vorm moes invul. Ag, en nee, dis nie omdat ek nie belangstel in wat haar pedigree is nie, of nee wag, ek stel nie belang in haar pedigree nie. Sy is sommer net ʼn mens op haar eie.

Katrien is nie veel langer as vier voet nie, en nie veel smaller nie. Of nee, ek oordryf: Sy is darem bietjie smaller as vier voet. Daniel is rietskraal. En lank. Ses voet plus, as ek moet rofweg skat. Ek wonner baie oor die ding van dun mannetjies en kort, mmmm, beter bedeelde vroutjies, maar dis ʼn onderwerp op sy eie, nè?

Daniel het sy lewe op die plaas spandeer. As jongeling het hy by die Robsons begin en eers onlangs as amper ou man beter weivelde gesoek. Katrien het maar los werkies gedoen. En molle gevang. Vir ekstra geld. En vir die pot. Nou kyk, ek's nie op hoogte met ons mol bure nie, maar hulle vertel dat ʼn duinemol so groot soos ʼn jong lammer kan word. Hulle sê as ʼn uitgegroeide duinemol die dag besluit om te skop, dan kan die boer maar agteroor sit en net wag vir ʼn week of wat, dan kan hy maar net die planter instuur, want duinemol se kind (en hyself en familie) ploeg ʼn land om in ʼn baie korter tyd en baie goedkoper as ʼn trekker. Wel, dis wat die mense sê, ek kan nie getuig daaroor nie.

En dis hier waar Katrien ingekom het. Want soos die rykes die strande, duine en strandfronte begin bevolk het met hul tien-slaapkamer wegbreekhuisies en lugversorgde 6 x sesse, moes hulle agterkom dat hul designer lawns nie opgewasse is teen ʼn duinemol nie. En logies is die outjies bang vir hul floating fondasies en halfgeboude Italiaanse copies: Die molle gaan ons belegginkie reduseer tot ʼn bouval in die helfte van die tyd wat die bouers probeer bou het.

Katrien het half legendaries geword as ʼn meestermolvanger. Ek onthou hoe sy later byna afsprake moes maak om die molle uit te sort, en logies, soos die aanvraag toegeneem het, het molle se lospryse tienvoudig toegeneem. Hier kort voor haar "aftrede" was haar tarief R20 per mol. Nie sleg as jy in ag neem dat die Syfers-familie ʼn voorliefde vir molvleis gehad het nie. Op ʼn goeie dag het sy sommer so 15 molle op haar draad ingeryg. Ek onthou nog hoe sy terugstap het plaas toe met haar string molle oor die rug.

Ek't haar dikwels uitgevra wat die kuns agter haar sukses is synde sy geen snaakse of nuwerwetse goeters saamgedra het nie, maar sy't, logies, soos die graf geswyg en net gedurig aangebied om vir my ʼn bakkie molsop te bring wat ek, logies, geweier het.

As ek die N2 of die ou pad nou so ry, dan sien ek die molle is deesdae weer besig om vir Massey Ferguson goed opdraande te gee. Die ou klomp rykes moet nou maar by Agri gaan raad vra. Net jammer Katrien is nie meer hier rond nie, want ek dink selfs teen R50 per mol is dit steeds ʼn bargain as mens in ag neem wat ʼn meter designer-gras deesdae kos.

Ek is steeds spyt dat ek toe nie mol geproe het nie. Hulle sê dit is nie te onaardig nie, veral as jy nie weet dis mol nie. Ek's egter meer spyt dat ek nooit Katrien se geheim kon leer nie, want dit smaak my daar's tog geld te maak uit molle.

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top