Op 5 Januarie 1972 het ek en twee vriende, pas uit matriek, met groot selfvertroue op ons gesigte as nietige troepe op Pretoria-stasie aangemeld vir die epiese reis Potchefstroom toe. Met matriek agter my naam en ʼn rybewys in my sak het ek soos iemand wat iets in die lewe bereik het, gevoel.
Hierdie gevoel is gou uitgewis in een van die felste aarde-toe-kom-belewenisse in my ganse lewe. Ek het Pa en Ma gevra om my by die kar te groet om my sodoende van die "en onthou om jou onderbroeke en sokkies te was en om gou te bel" te spaar. Die reis was minder aangenaam. In enkele sekondes is die pas gematrikuleerde tot ʼn nommer gereduseer: 69265437 J.
Net dit, niks meer nie.
In die treffende beeldspraak van Chris Louw se Boetman is die bliksem in onthou ek die woorde soos gister: "Hou jou bek, troep! Jy't fokkol te sê."
By ons aankoms in Potch was die roofride in die Bedford ʼn welkome blaaskans na die emosionele foltering en vernedering op die trein. (Uitspraak: roofraaid, ofte wel die spesiale stamperige rit vir rowe. Roof en troep is altererende sinonieme.) By die basis het ʼn hoop uitgedroogde toebroodjies en ʼn kan suurmelk ons ingewag. Uit protes het die punte van die droë brood skurwe hakskene vir die rens botter gewys en soos gekrulde mielieblare opgetrek.
Kort na die middagmaal is ons ge-issue met overalls en ʼn trommel. Vir die res van my basiese opleiding het ons nooit in die kamp geloop nie. ʼn Troep moes altyd op ʼn drafstap (looppas) wees. Jou daaglikse opelyf en verdwaalde posstukkie was enkele hoogtepunte op die eensaam reis. ʼn Verdwaalde skoolkys het een keer die durf gehad om ʼn uiters welkome brief aan die jongeheer Ryperd te rig.
Fout nommer twee: ek het die Bombardier (Bommedeer), ʼn puisiegesig wat erg aan die kleinmannetjie-sindroom ly, tydens posparade as korporaal aangespreek.
Fout nommer drie: Ek het gesmile oor sy opmerking: "Al waarin julle troepe mos belangstel is pos, pas en p..." Die ekstra push-ups was OK, maar ek sluk nou nog aan die vernedering omdat ek hom nie kon donner soos wat ek wou nie, want dan was ek vir seker DB toe gestuur. O ja, ek dink aan nog ʼn hoogtepunt. Die hele Potchefstroom het nie ʼn step out-baadjie gehad wat my pas nie, en ek is met die trein Pretoria toe gestuur om by die sentrale stoor (5 BKD) een te kry. Vir twee dae was ek nie ʼn onnosele troep nie.
Terug in Potch was dit net leopard crawl, mile-and-a-half met staaldak webbing en geweer, obstacle course, op-die-looppas, kaartlees, skiet, oefen, en derglike aksies soos kanonloopskoonmaak met ʼn spesiale instrument genaamd die osp..s. Ek het nooit gedink dat ek hierdie omgekeerde dog felle waarheid ooit so brutaal eerlik op skrif sou stel nie, maar nou ja, hoe kan mens lieg oor geleefde werklikhede?
Snaaks dat mens later gekondisioneer raak en effens van die army en sy dinge begin hou, veral as jy oumanstatus bereik. Soms was daar enkele werklike helder oomblikke.
Baie vroeg soggens het ons soms deur verkykers na die dameskoshuise gestaar en gekyk hoe die ligte aangaan en die soepel lywe ontwaak. Nog nooit in my ganse lewe het ek die sagtheid van die vroulike liggaam meer begeer as toe nie, en deur die helder lens van ʼn verkyker kon ek iets kosbaars van die komplekse heelal snap. So naby, maar tog so ver. Die krag van die vlees domkrag Ryperd om en hy staar na die sterre.
Groete,
Ryperd


