Noudat ek die opskrif so kyk moes ek seker getik het: garage-paai. Maar dit nou daar gelaat.
Terwyl ek so lees van die rustigheid daar langs die Eersterivier dwaal my gedagtes mos nou ook. 'n Lekker terugloop op paadjies van lank terug, miskien so 40 jaar of wat terug. Vir 7 jaar was ek 'n kind in Stellenbosch.
Die Laan 22. 'n Skakelhuisie met houthortjies voor die vensters, plankvloer en 'n buitebadkamer. Wonder of die plekkie nog staan? Leibeurte op sekere dae wanneer pa dan die tuin kon natmaak.
Later jare was my ouers koshuis-ouers van Huis Neethling, nog steeds teenaan die Eersterivier.
Om terug te kom na die Rivier toe. Menigte ure, nee eintlik dae, was daai Eersterivier ons speelplek. Wanneer die rivier nie afgekom het nie was dit net so 'n kabbellende stroompie om die klippe. Daar kon ons, sommer so voel, voel onder die klippe 'n paar forelle met die hande vang wat later dan smullekker op die dennebol kole gebraai sou word. Êrens naby die huis was daar so 'n groot rots klip affêre wat so halflyf in die rivier gestaan het. Wanneer jy saggies en alleen, want jy moes baie saggies, nader gekruip het kon jy die studentepaartjie daar op die klip aanskou. Daar het hulle gesit en hande vashou en gesels oor goeters waarvan jy as jong kind net mooi niks geweet het nie. Verstaan kon jy ook nie rêrig nie, maar luister het jy, want dit was so mooi.
Net so ent onderkant toe het die studente, of was dit nou Paul Roos se seuns, ‘n klomp klippe bo-op mekaar gestapel wat dan die water so effens laat opdam het. Saterdagoggende vroeg het pa ons gevat om daar met 'n handlyn en dobbertjie, 'n paar forelle te gaan vang. Die water was so helder dat jy gespanne die visse kon dophou terwyl hulle nader swem om die erdwurm op die hoek te kom hap. Hierdie lekkerny het ma dan in die pan gebraai vir 'n lekker ontbyt.
Oorkant die rivier is Coetzenburg waar ons Vrydagaande een uur atletiek byeenkomste bygewoon het. Nie vir die atletiek nie, maar vir die baie lekkers en roomys wat ons kon koop met al die geld wat ons gemaak het om die lee bottels te gaan ingee.
Sondae was dit skelm swem daar in die swembad totdat ou oom Tamatie, so genoem oor sy rooi gesig, ons daar kom verjaag het omdat die swembad se hekke nog nie oop was nie.
Op die rivier se walle het ek geleer om kettie te skiet. Ons teikens was die paddas wat teen die klippe gesit het. Ure en ure is daar gesoek nie die regte ronde klippies vir koeëls, fyn gekorrel en geskiet, maar ek kan nie van een raakskoot onthou nie.
Daar het ek geproe hoe soet ‘n kappertjie smaak. Sommer so wild gegroei langs die water.
Ek onthou die wegtrek daar toe ek in standerd drie was, Laerskool Stellenbosch. Die groet van maats, die groet van die Voortrekkergroep, die groet van die eerste rivier.
Julle op Stellenbosch is so blerrie gelukkig. Dit grens aan onregverdigheid.
Geniet die garage paai en die stilsit en luister daar. Eet nog een op my!!
Groete
PlaasJaap
(Steak and Kidney of Cornish? Webvoet)


