Bokomo-brekfisbrief; 05/09/09: 'n Slang in die gras met Melt en Poerstamper?

  • 0

Liewe Willa, Mede-trawante, Seksterapeut, KdK en Sue

Ewe skielik kan jy niemand op hierdie werf meer vertrou nie. En dit kan maar volmaan wees, ons is nie een daarmee gepla of kinds of uit de oude doos nie, hóór jy, Sue? Terloops, die malls is vol ou tantes wat met daardie kontrepsies aansukkel, dié waarvan jy die prentjies vir Melt gestuur het. Nog nooit sal jy 'n mooi jong man met so iets sien hinkepink nie.

Ons vind dit vernederend dat dr G Roodt-Kok ons as "voormalige en toekomstige pasiënte" aanspreek, en maak ten sterkte beswaar daarteen. Dit word by die minuut duideliker dat bogenoemde dokter self vir dr Poerstamper se beserings verantwoordelik kon gewees het. Het julle agtergekom hoe saai hy die saadjie van agterdog met die mededeling dat dr P, sy byna noodlottig-beseerde vennoot in die waakeenheid, 'n verpleegster se boude knyp? Dink hy werklik ons is mal genoeg om hom na dese te glo? Dalk moet die seksterapeut die saak verder hanteer. Maar van hier af lyk dit kompleet of sy die instituut in 'n rooiligdistrik cum film-studio wil omskep.

Dis ongelukkig nie al nie. Liewe Wêreld-Mevrou Willa, het jy opgelet wat Melt se kommentaar onderaan jou briefie was? Hieruit blyk dit net so moontlik dat dokter P dalk op die sypaadjie voor KFC aan 'n hoenderbeentjie kon verstik het. Dis mos waar Melt "uiteet". Ekself het Melt vandag 45 keer geskakel om te hoor wat die waarheid is, het hom selfs my twee reusestampers op twee sinkplaat-skinkborde aangebied as hy net daarmee sou uitkom, maar kon niks uit hom kry nie. Is swyg nie ook 'n antwoord nie?

Die laaste uitweg is om desnoods die hulp van KdK in te roep. Dalk help hy (soos altyd) in liefde ook alle verlore pasiënte, soos die arme mejuffrou Verloveren.

Nou ja, ek moet gaan. Nadat my ou darling hierdie hele storie 'n hele paar keer gehoor het, was hy so gaaf om my vir twee weke in te boek by 'n rustige vakansieoord met die mooiste groen dakkies.

Intussen, sterkte en liefdegroete vir julle almal.

Ellen B

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top