Bokomo-brekfisbrief; 05/07/09: Sê dit met 'n soen ...

  • 0

 

 

Ek hou netnou in die dorp 'n verliefde paartjie (wat aan mekaar se lippe hang) met verlangende heimwee dop. Ek wonder nou nog of hulle mekaar net gegroet het en of hulle bloot smoorverlief was?

Ek het nou die dag in 'n artikel gelees dat 'n soen deur die natuur ontwerp is om die mond stil te maak wanneer woorde onnodig is. Almal ervaar dit minstens een keer in 'n leeftyd: Daardie hol kol, tolbos, vlinderfladder, as jul lippe in daardie onvermydelike, onbeskryflike en onvergeetlike soen aan mekaar raak ...

"Soen my, soen my weer en weer! Jou liefkosing is beter as wyn," het selfs die wyse Salomo eeue gelede al oor soene geswymel. En soene word nie net in Hooglied en minneliedere besing nie Dis die hart en hoogtepunt van menige boeke, gedigte, rolprente en soete herinneringe.

Gaan kyk maar. Selfs pienkvoete deel maklik natterige oopmondsoene uit - so sonder rede en so onverklaarbaar dat oumas dit maar gelate met warm ouma-harte aanvaar en vertroetel. Maar pienkvoete word groter, en die soentradisie van Afrikaanse bloedfamilie gee hulle nagmerries en word tot elke prys omseil. Tog loop die lewe soos hy moet, en êrens kry die soen 'n passiegeurtjie. Tieners fluister agter bakhande oor hierdie inlywing in grootwees. Potloodblikkies word altaartjies van beroemdes wat soen en troetel. Die afwagting en opwinding van die eerste soen word tot in die fynste besonderheid deurgedroom. Hoe gaan dit wees? Veel belangriker: met wie?

'n Soen is immers baie meer as die blote aanraking van lippe en die eenvoud van twee asems. Om so intiem met 'n ander wese om te gaan dat julle 'n asem deel, is sielstaal. Onthou jy jou weerloosheid na jou eerste (onbehendige) soen? Die vrees dat jou adolessente, hormoongedrewe, rankerige prinses op haar dikwielfiets die geheim met haar vriendinne gaan deel? Jy's jou eetlus kwyt en huil maklik? Jy lê ure lank in 'n donker kamer met jou teddie onder jou blad en herleef die lewensveranderende ondervinding oor en oor. Die emosies is vreemd en nuut, maar die nasmaak onbeskryflik soet!

Ek het die soen-affêre ge-google. Die soen se spore lê blykbaar diep in die geskiedenis. In die Steentydperk het ma's blykbaar hul kos fyn gekou en vir hul suigelinge gevoer. Vandaar die baba se instink om oopmondsoentjies uit te deel. Nog 'n teorie is dat die soen sy ontstaan aan 'n heilige en godsdienstige gebruik te danke het. Sowat 2000 vC is geestelike eenheid tussen broers en susters met 'n kus gesimboliseer. Die ortodokse Indiaanse stamme glo die siel en die asem is een: As jy iemand soen, word jul siele vir ewig verenig.

Ek kan maar net dink. Die bekendste soen is ongetwyfeld die Judaskus toe Judas vir Jesus in die tuin van Getsemane gesoen het voordat hy hom verraai het. Dan is daar ook natuurlik bekende legendariese soene. Die soen in Die Slapende Skoonheid waar die prins die prinses uit 'n diepe slaap wek. Dit is immers vir my 'n kosbare herinnering uit my kleintyd en al die vele kindersprokies. Ek glo mos ons was almal ryker toe ons kinders was. Ek praat nou van myself, toe ek maar nog net 'n klein dogtertjie was ... vyf bakstene hoog! Toe feetjies in die bome gedans en op sonstrale gery het. En Liewe Jesus en Sy engeltjies oor ons gewaak het. Presies soos in die prent van die kindertjies wat langs die afgrond speel en die engel wat sy vlerke oor hulle sprei.

Stories van dapper helde en skone prinsesse, van soet aande en Weense walse, van goue kamers en keiserlike robyne. Tog het feministe warm onder die kraag geword oor die simboliek van die stories. Stryders vir vroueregte sê die idee dat 'n vrou 'n man nodig het om seksualiteit te laat ontwaak, is twak. Maar die teendeel gebeur waar die prinses 'n padda soen om hom weer in 'n prins te laat verander ...

He-he-he, ek dink eerder die Franse kus is verreweg die mees erotiese van alle soene en moet allermins nie vir familie en vriende gebruik word nie! Met dié soort soen gooi ek alle vooropgestelde Calvinistiese idees by die agterdeur uit en verdrink myself in die oomblik! Volgens die boek Ten Facts You Need To Know About Kissing, gebruik jy vir 'n Franse soen minstens 30 spiere in jou mond. Jou hartklop styg van 70 tot 150 slae per minuut vanweë die seksuele stimulasie en opwinding.

Nou vra ek, waar lê die onvergeetlike soen? Dit wag ver buite die grense van voorafdroom en beplanning. Dit raak klein oor die horison - waar woorde opraak en net die hart luister. Om so te soen, kom soms net eenkeer in 'n leeftyd ...

Kaalvoet Jasmyn

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top