Nou die aand, na my Stormers se Soweto gatslag (Schalk sê agterna die ref het die Bulle ge-'coach' en ons liederlik gepenaliseer vir dieselfde ding, jy weet, met Morné daar en so aan ), stap ek en my wederhelf kar toe.
Ek met 'n swaar gemoed, WP-trui en Stormers-kepsie, sy (synde 'n Cheetahtes) so al bewonderend na die goedjies in die winkelvensters, toe sagte en rustige musiek na ons aangerol kom wat ons noop om in die stegie af te loer en toe, so byna heel onder, 'n helder ligkol gewaar.
Dis 'n nuwe eetplek. Ons staan nader en stap in, op die tafels, nieteenstaande die helder ligte, is daar sulke klein kalbasagtige glasbotteltjies met 'n flou vlammetjie binne-in aan 'n toutjie wat net-net in die gelerige olietjies lê.
In sterk kontras met so pas se Bulle-vlae en gepaardgaande luidrugtigheid, brandewyn, rooiwyn, Hansa Marzengold draughts, rumoer, slegsê en beledigings daar in die donker 'rook-en-geen O-18's' afdeling van die restaurant wie se eienaars boonop Pta'ners is wat hul heil hier in Stormers-country kom soek. Die Bulle se bekke is net groot wanneer hulle wen. Vat byvoorbeeld daardie "B" span van hulle, byna almal was toe ook daar en jy kon daardie dag 'n speld hoor val. Ons Stormers sit vir jare al Nuweland elke Saterdag vol.
Die rustige musiek word nog sagter gedraai en word strelend. Ek onthou toe ( en moes dit gaan opsoek) CK
Op die netjiese tafel is daar onder andere 'n traktaatjie wat ek toe lees en op die volgende afkom wat my toe daardie aand terug neem:-
" we hastened back to the palace, and traversed a number of dark vestibules and guard chambers and were almost blinded with a blaze of light from the room in which supper was served up" (A Portugese Supper Party- The Travel dairies of William Beckford of Fonthill.)
Die afgelope Kersfees was my twee kleinkinders, hulle kom elke ander jaar, en nou op daardie ougat stadium, 3-5 jr oud, hier kuier. Altyd gewonder wat dit met ouma-en oupaskap is. Dis mos nie jou eie kinders nie en bowendien, oupas gaan mos dood. Totdat jy agterkom dat hulle jou terug neem na jou eie kinders op daardie ouderdom.
Hulle bly daar aan die suidelike voet van die Drakensberg op hul ander oupa se plaas, maar omtrent 'n kilo-en-half vanaf die "ouma-huis". Evkom het jare terug al 'n plaas se geld geëis om die aansluiting vanaf neffens ouma se huis te doen met nog 'n skrikwekkender heffing bo en behalwe die maandelikse verbruik.
So kerse, gas en diesel is, deesdae ook 'n duur kommoditeit met die naaste afslag-agri-depot 40 km ver, aan die orde van die dag. Met 'n Lister vir lig in die aand en vir die 'toploader' wasmasjien bedags. Dis van daardie heel eerste Listers sê skoonseun daardie dag. Een silinder, groot en hardegat. "As pa hom wil slinger, moet pa pa se slinger ken, wil pa try"?
Daardie eerste slingerswaai vat vir dorpsjapie tussen sy blaaie vas, beginnende by die agternek rond en skeur als af tot by die vermiste ribbebeen. Met die dat pa hom laag gevat en sy kompressie ook nog geminag het, slinger hy pa in reverse terug tot teenaan die sinkplaatmuur met sy lyf wat soos 'n koeksister vou.
Die tegniek :- Jy maak die deur oop. Wydsbeen en bakarms 'stare' jy hom eers 'down' terwyl jy jou regmaak vir ten minste vyf omwentelings teen kompressie, dan tree jy vorentoe, draai sy dieselkraantjie oop, gryp die slinger en voordat hy weet wat aangaan, slinger jy dat die biesies bewe. As jy wen sal hy, nie dorpsjapie nie, eers poep-poep en dan doef-doef-doef-daf-daf-daf … dit, en die ligte in die huis gaan flouerig aan.
Die eerste aand hier by oupa om en by agtuur, sê hul ma dis slaaptyd wat met 'n uur of wat uitgestel is want dis vakansietyd. Die ouer enetjie kyk hul ma vies aan en vra "hoekom mamma "?
Die jonger enetjie beloer ousus met 'n frons " want oupa se diesel is klaar, stupid".
"Is oupa se diesel klaar?", hulpeloos kyk oupa na hul ma wat ferm beaam "ja, oupa se diesel is klaar en basta, bed toe!"
Oujaarsdagaand neem oupa hulle uit. "Pa, asseblief tog nie na 'n donkerplek met kerse nie, ons soek lig," smeek my oudste. Die versoek was ook na 'n seekosplek. Hulle het genoeg van T-bene, fillets, rump en paddastoelsouse en dinge.
En hoe het hulle tog nie gesmul aan die kalamari-“spinnekoppies" nie.
Ver weg van die Lister en sy dinge.
Groetnis,
Raed-na-Gael


