Oppad terug plaas toe van Montevideo af, het ek by die plaaslike cantina gestop. Dit is 'n lang pad en ek wou net gou ietsie drink voor ek verder ry. Buite het 'n ry perde vasgemaak gestaan, soos die Gaucho's (cowboys) die stof kom afspoel het. Ja, boere is dieselfde die wêreld oor. Vrydagmiddag gaan maak hulle by een of ander watergat keel nat.
Ek het by die kroegtoonbank gaan sit en bestel: "Uno cervesa, por favor". ("'n Bier, asseblief.) Almal in die omgewing het onmiddellik na my gekyk - die ou met die snaakse klere en snaakse Spaanse uitspraak. Terwyl die eienaar die bier oopgemaak het, het daar ewe skielik 'n yslike groot hand op my skouer geval, en toe ek omkyk, staan die grootste gaucho wat ek nog in Suid-Amerika gesien het, skuins agter my en hy praat opgewonde oor die Rabbie. Hy het so vinnig gepraat dat ek nie 'n enkele woord van sy Spaans kon verstaan nie. Tussen sy relaas deur praat hy kort-kort van die Rabbie. Ek wonder nog of hy dink ek is 'n Jood, toe hy opgewonde aan my baadjie pluk, en toe verstaan ek.
Ek het my Springbok- (supporter-) baadjie aangehad, en die ou wou oor rugby gesels. Gou-gou was almal in die Cantina se aandag op ons, en die ou vertel toe opgewonde vir almal van "Surafrika" en die Sprieengboks. En daar begin almal toe vir my dop koop. Dit was verstommend want dit was die eerste mens in Uruguay wat die Springbok-embleem herken het, en dit met SA en rugby in verband kon bring. Hy het selfs geweet die Bokke was in 2007 die Wêreldkampioene.
Ek het in my uiters gebrekkige Spaans vir hulle probeer vertel wat rugby is en hoe dit van sokker verskil, maar ek dink met my swak woordeskat dink party van hulle nou rugby is amper soos ballet of tango. Na al die dop het dit selfs vir my gevoel ek begin Spaans vlot praat.
Ek was, nodeloos om te sê, stormdronk toe ek uiteindelik daar
uitstrompel. Daai ouens vat nie nee vir 'n antwoord nie. Gelukkig was dit verder grondpad, en kon ek so stadig-stadig aankruie plaas toe.
Daar gekom, was vroutjie en selfs my hond vir my kwaad oor my toestand, maar met 'n uitnodiging om elke Vrydag te kom kuier, het ek goed gevoel. Ek het 'n klomp nuwe vriende gemaak, en dit danksy ons nasionale spel (of is dit nie meer nie?)
Groetnis
Heinrich B Zaayman


