Bokomo-brekfisbrief; 05/06/08: Ons walvisse is hier!

  • 0

Toe my suster my ewe opgewonde verlede week uit Plettenbergbaai bel, het ek gedink sy sien gesigte pleks van 'n klomp walvisse. Dis mos te vroeg, en buitendien sien ons elke jaar walvisse hier in Kleinmond net mooi 'n week voordat hulle die walvisse daar gewaar. Sy het my verseker die walvisse is daar! Eers nadat ek die ou grotes hier vlak teen die rotse gesien het, was ek tevrede – hulle is inderdaad hier!

Ses jaar gelede toe ons Kleinmond ons tuiste gemaak het, kon ek beswaarlik glo dat die ou inwoners so blasé is oor die walvisse, en iemand het my gewaarsku dat ek na so 'n jaar of twee gewoond sal raak aan hulle. Wel, ek hoop ek raak nooit gewoond aan die wonder van die lewe, die natuur en die see, wat insluit ons jaarlikse walvisse nie.

Hulle het hierdie jaar meer as 'n maand vroeër as die vorige twee jaar gekom. Ek wonder watter faktore bepaal dat die eerste ou voorlopers die ander in kennis stel dat die groot trek suide toe op hande is?

Gepraat daarvan, daar is nog twee dinge waaroor ek my ook elke jaar verwonder – die oopspoel van die lagune, en die koms van die Argonauta Argo (Paper Nautilus) in April. Hierdie jaar het ons nie eens 'n ou stukkende enetjie opgetel nie, niks nie. Ek wonder ook elke jaar wat bepaal dat hulle uitspoel, want die twee jaar wat daar heelwat skulpe was, kon jy ook die lewendige outjies sien ronddobber in die rotspoele.

Die natuur bly darem een groot wonderwerk en daar is vir my geen beter plek om die Godheid te ervaar as met my voete in die see nie!

MaanKind

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top