'n Lang beplande ontmoeting kom uiteindelik tot einde met 'n e-pos aan Johrné van Huyssteen: "Sien jou by die Thabazimbi Wildsfees hê-hê-hê. Swerwer."
Twee ‘vyande' gaan van aangesig tot aangesig ontmoet. Johrné kan nie anders nie, hy móét daar wees. Hy is die driedag-lange seremoniemeester en Swerwer wag dalk iewers met moordgedagtes.
Vyf weke gelede het ek die beplande Thaba Ekspo-program onder oë gehad en Johrné se naam daarop gesien. Dieselfde dag begin my skynaanval op SêNet. Johrné - die Afrikanerveraaier! Op elke van sy skrywes het ek 'n eiertjie te lê. Min weet Johrné ek en kollegas lê soos ons lag - Johrné kom Bosveld toe, bakermat van die Afrikaner, waar die AWB as te links beskou word.
Donderdag ontmoet ons die eerste keer en ek vertel Johrné van ons prank. Ons lag lank en lekker; tog bemerk ek 'n onderdrukte woede. Donderdagaand slaap ek met 'n baseball bat styf teen my.
Vrydag kuier ek saam met die Thaba-boere wat nie nee vir 'n antwoord ken nie ... ek ook nie. Saterdagoggend word ek met 'n helse kopseer wakker en besluit om my vrees weer van aangesig tot aangesig te konfronteer. Ek bekruip Johrné by die bokslag-kompetisie en maak seker hy't nie 'n moordwapen in sy hande nie. Gelukkig is sy pragtige vrou ook daar en ek neem my kans waar om hom 'n whisky aan te bied. Ons drink en kuier soos twee ou vriende. Die aand voer ek 'n onderhoud met hom op die plaaslike radiostasie. Johrné vertel van die koedoedrolspoeg-kompetisie en van twee dissels en 'n blom. 'n Nuwe kontrak by Select musiek en toutrek.
Johrné moet terug verhoog toe, Robbie Wessels en Steve Hofmeyr tree op. Hy is saam met Hannes van Egoli seremoniemeester. Hannes val van die verhoog af en Johrné bekyk hom van 'n goeie twee meter hoë verhoog af: "My mede-aanbieder het pas van die verhoog geëtter," kom hard en duidelik oor die luidsprekers. Daarna ruil hy twee ddisselblom-CD's vir Myprodols by die gehoor. Hy wen die Thabazimbiërs se harte.
Johrné is net soos ons, hy's 'n mens-mens (en ons is al laaaankal fans van ddisselblom). Môreoggend pak ek en vroulief die langpad terug huis toe - met ddisselblom ons gaskunstenaars oor die motorluidsprekers.
Sorry, Johrné, ek kon dit net nie weerstaan nie, hierdie een drink ek op jou en jou pragtige vrou - Prost!
Swerwer


