Beste Prof Hambidge,
Eerstens 'n "disclaimer". Ek moet sommer hier aan die begin bieg dat ek 'n outodidak is, en soos dit met selfgeleerdes gaan, huldig mens soms wanopvattings met toenemende selfvertroue. Kennis van die onderwerp word maklik ondergeskik tot passie vir die onderwerp.
U "Kwessies van kanonisering" het betrekking.
Het die kritikus of literêre pryse enigsins die vermoë om 'n werk in die kanon in te olie of die deur toe te slaan? As die kritici aan genoeg mense verduidelik waarom 'n teks kwansuis klassiek is, sou dit dan klassiek word?
Oorlewing is sekerlik die Goud Standaard. Die klassieke teks het iets mee te deel aan alle mense van alle tye. Of daardie stamina selfs deur die gesoute kritikus voorspel kan word, bly 'n ope vraag.
Natuurlik is die diktatuur van die proletariaat iets om te vrees, ook in die kunste. Daardie vloek (en ja, vir Groot Kuns kan gewildheid 'n ernstige toets wees) is egter een van die talle vuurdope wat die klassieke werk louter.
'n Bebaarde T-hemp-Mona-Lisa, Beethoven se Negende geblik en gepyp na jou supermark – slegs die klassieke werk kan versoet, ingelê en massaverpak word, en steeds heelhuids en sterker anderkant uitkom.
"Everyone's a critic" en met dekonstruksie en "The Death of the Author" het literêre kritiek in 'n tipe anargie verval. Superman (DC Comics, nie Nietzsche nie) kon blykbaar op net soveel vlakke gelees word as Shakespeare se tragedies. Art in the eye of the beholder. Tekste kon op 'n feministiese, Marxistiese, Freudiaanse, post-kolonialistiese wyse gelees word. Daar was soveel lae van betekenis. Daar was geen betekenis.
Selfs hierdie by tye erg vyandige kritiek is deur die klassieke werke deurstaan. Soos Bloom dan ook tereg opmerk: Hamlet vertel ons veel meer van Freud as wat Freud ons ooit van Hamlet kan vertel.
Ek wil dus graag met u saamstem. In ons tyd van die "klankbyt", blitsverkoper, en verwarring tussen realiteit en TV , raap ons vinnige vreugdes vanaf die oppervlak. Die kritikus is 'n kundige, nie heldersiende nie, en behoort ten minste die meer kieskeurige leser in te lig oor wat beskikbaar is.
Wat lidmaatskap van die kanon betref, sal tyd die res doen.
Chigurh


