Bokomo-brekfisbrief; 05/04/2011: Stomp

  • 0

Die ou mense het mos geglo aan ’n stomp. Nee, nie die soort wat jy in die vuur gooi of voor wie jy in jou onnoselheid neerkniel nie. ’n Stomp, man. Een vir jou kies. Ene wat jy direk by jou "slams"-kontak gekry het. Hy moes hom self bewerk het. Eintlik nie ’n stomp nie, meer ’n stokkie. Vir die kies. En as hy jou met ’n kombers en ander goete op ’n bad laat uitsweet het werk hy nog beter. Die badjie water met die sweet word mos weggeneem om jou te help. Jy moet later jou vyand se naam prewel as die houtjies gebrand word en die "magiese" poeier opgegooi word en dan gaan alles draai.

Kom ons begin voor: As jy voel jy is te nagekom deur iemand kan jy mos "mense" loop raadpleeg. Baie soos die manne wat Boontoe of Ondertoe roep of sit en swymel in die hoop dat hulle nog ’n kans gaan kry. Jy weet, die outjies wat daai stink stokkies brand en dink dit verander dinge. Hierdie "mense" belowe, teen betaling, logies, mos vinnige resultate sonder die lang relaas wat eers gebeur as jy jou asem uitblaas. Hulle toor of besweer vir jou ’n paar stukkies houtjies en daai goete werk, glo my. Jy breek so ’n duimlengte af en jy sit hom in jou kies. Nie kou nie, jy hou hom net daar, jy raak hom gewoond soos ’n chappie beduie hulle. "Hulle" het duidelik nog nie vir ’n dag lank ’n chappie probeer kou nie. Die ding raak later so draderig en droog dat jy hom nie eens kan afsluk nie. As jy hom stukkend byt breek jy die goeie geluk en twee dele goeie geluk bring ongeluk, blykbaar.

So het ek vir J al menigmaal in groot moeilikheid gesien. Ek sweer, hy trek vis by Gouritz en Neptune se manne vang hom, soos die rooies sou sê: "red handed". Hulle vat die nette, die bakkie, die voertuig, die lot. En J oornag iewers in die selle. Volgende oggend kom hy los met vry borg. Want, soos die manne al lankal beduie: J kyk daai landdros net so onderlangs en hy gee so ’n rustige kou en hulle se die landdros en aanklaer en ondersoekbeampte raak asof hulle deurmekaar raak. En J loop. Om weer aan te jaag. ’n Maand of wat later loop hy en word boonop nog vergoed vir die skade wat hy moes deurgaan ...

Ek vra eendag vir J pertinent oor die stomp-storie en hy kyk my aan asof ek beweer hy het my in die annertyd gesit. Ek kyk na Thysie en Thysie se J maggie uitpraat oor die stomp nie want dan sal sy geluk draai. Maar mens los mos nie hierdie tipe van ding sommer net so nie. Kom toe uit hy hang lankal uit by daai toordokter in die dorp hier wat daai koning se naam dra. Die ou maak geld soos dask ... en J is gelukkig.

Dit was hier drie, vieruur die oggend. Ek onthou ek wou net probeer herstel om vir ’n uur te rus voor die brood en koerante afgelewer word. Mens kan mossie met ’n drankasem klante groet nie. Aan die padkaarte in die oge kan mens nie veel doen nie en mens kan dit afpraat as moegheid. Die boerboele raas en die foxie is besete want die geraas is nie van hier nie. Dis J met ’n spul manne. Hy strompel ’n paar woorde uit oor ’n pap wiel en ’n wielspanner wat hy nie het nie. Agterop is ’n wavrag bakstene en iets wat soos diesel ruik. En mens ken mos moeilikheid wat ’n klankie van ’n rot het en jy beduie dat jy net gister jou wielspanner vir daai ou met die NW-registrasienommer (want mens weet mossie meer van waar die ou is nie, jy weet net hy is van iewers in NW af (wonder of hulle skaam is vir hul dorpe?) geleen het. Ek weet en hy weet ek lieg maar ons vat dit nie verder nie.

Twee dae later daag die speurders op en soek na J. Oor ’n spul bakstene en diesel en twee batterye wat uit die steengroewe se bulldozers verdwyn het. Speurder beduie dat hy vermoed hulle sal vir J iewers in ’n tikplek opspoor maar hulle doen maar die rondtes sodat ons moet weet as ons hom gewaar dat ons moet bel. En so kry hulle vir J. In einste. En J moet verskyn. En twee dae later kom soek speurder weer vir J want J het gehol. Sommer uit die hof uit. Nou moet hy boonop pa staan omdat hy die hof beledig het. En J kou. Of suig of wat ookal.

Ek kry vir J toevallig, toe ek moes loop goete beëdig by Grootbrak se hof. Hy sit met voetboeie aan want hulle vattie meer kanse nie. Hy beduie vir my dat ek ’n pak suiker en Boxer en blaadjies moet aangee vir die bewaarder. Ek bekyk die man van korrektief en hy knik dis reg so, hy sal annerpad kyk (oesters maak deure oop). Ek druk ’n bloue in J se hand en ek vra of hy ok sal wees. Hy knipoog en gee (genuine, ek jok nie) ’n lang kou en ek weet hy kou nie Airwaves nie. Hy sê hy sien my later die week. Als sal ok wees.

Ek kry so ’n maand of wat terug ’n kollekteer-oproep (jip, daar is nog sulke goed). Ek weet sommer dis J en ek vra uit oor die saak en sake en hy beduie dat hy bietjie bad luck opgetel het, hy sal ’n rukkie moet bandiet. Ek vra hoe lank en hy lieg dat dit so ses maande of wat sal wees.

Ek wou nie vra oor die stomp in sy kies nie maar ek wonder hoeveel hy moes betaal vir daardie takkie waaraan hy so naarstigtelik suig. Of is dit kou?

Smaak my die een of ander tyd loop jou geluk iewers uit, al loop jy met watse stomp rond. Tog, ek moet sê, J se tyd in Zuma se gastehuis is nie te sleg nie. Hy is nog redelik heel en is nog nie iemand se meisie nie. Die wat weet sê dat selfs harde manne lugtig is vir J en sy stomp in die kies.

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top