Bokomo-brekfisbrief; 05/03/2011: Suiwer taal vir Jan Rap

  • 0

Beste Jan Rap

Ek hou nog vol: Afrikaans met ’n Engelse aksent is nie Afrikaans nie. ’n Persoon mag dalk grammatikaal korrek praat, maar enige aksent verbreek kommunikasie tot ’n sekere mate.

Engels het ’n verbasende invloed op Afrikaans – meer, baie meer as wat selfs die Afrikaanssprekende, wat spog dat hy suiwer Afrikaans praat, dink. Jy het dit teen Engelse woorde wat in Afrikaans gebruik word. Jy bedoel seker dat iemand sommer ’n oorkonkel behoort te kry as hy bv sê dat daar baie mense op die beach lê. Wat van woorde soos rugby, tennis, krieket, poeding, kar, tjop, jurie, speaker, ens, om maar ’n paar te noem. Of word hierdie woorde as suiwer Afrikaans geklassifiseer?

Graag hoor ek jou mening oor suiwer Afrikaans. Bestaan daar so iets? Wat gebeur as die Afrikaanssprekende nie meer suiwer Afrikaans praat nie? Ek is maar skrikkerig vir ’n “Big Brother” wat sal toesig hou oor taalgebruik. Die jaar 1984 het nou wel gekom en gegaan sonder George Orwell se totalitêre nagmerrie, maar wat van daardie Newspeak wat hy vir Engels voorspel het? Dalk gaan Afrikaans ook so in ’n Nuutspraak verander. Sjoe! Verbeel jou waar die hart van vol is, loop die mond van oor, sal dan beteken dat daar bloed uit ’n mens mond kom. Gelukkig lê 2050 darem nog relatief ver in die toekoms.

Groete

Angus

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top