Vrydag op pad Johannesburg toe, het ek ’n bespreking gehoor oor die vrystelling van die iPad in Suid-Afrika. Ek het vreeslik geskimp vir een, maar my familie wat almal een begeer, dink nie my tegnologiese vaardighede regverdig so ’n groot uitgawe nie. Man, dit klink vir my ideaal vir iemand wat baie reis, baie lees en op die internet boer.
Later die dag loop ek Exclusive Books se GROOT uitverkoping raak. Ek word op heterdaad betrap met arms vol boeke. Hoe kan ek ’n boek los wat R38 kos? Ek wil dan al lankal AP Brink se memoirs koop, teen R88 is dit ’n winskopie! My dogter herinner my dat ek later die aand my Kindle wat by haar huis afgelewer is, in ontvangs gaan neem. Traag sit ek die boeke neer. Ek voel soos ’n verraaier. Totsiens aan ’n wonderlike era. Hoe gaan ek buitendien my kleinkinders leer lees sonder boeke? Gaan hulle my vra; “Ouma, wat is daai goed op die wit rakke in Oupa se grot?”
Ek is gereserveerd opgewonde. Daardie aand sit ons en boeke aflaai vanaf Amazon. Ons vind nie Afrikaanse boeke nie. Op Exclusive Books se webwerf koop ek een boek en laai dit op my rekenaar af, net om later uit te vind dit kan nie op my Kindle gelees word nie. Ons besef ons het nie ons huiswerk gedoen nie. My ander dogter het ’n iriver Story waaroor sy gaande is en wat sy nou al van verlede jaar af gebruik. Dit het reeds 200 klassieke boeke opgehad en sy kan by meer webwerwe koop, maar dit is nie wireless nie.
Nou wonder ek wat ander mense se ondervindings was. Watter e-reader is die gebruikersvriendelikste vir ons Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners?
Terug na my Kindle …
Vega


