Bokomo-brekfisbrief; 05/01/10: 2009 reminisce

  • 0

Liewe LitNet,

(London) Ek staan en rook my laaste sigaret vir die duisendste maal terwyl ek halflyf uithang by my dakvenster en uitkyk oor die tuin waar die sneeu twee weke terug nog drie duim dik gelê het. 2009 is op sy kop en LastFM.com besluit namens my waarna daar geluister word. Valiant sing "my mamma is 'n stad" maar fok weet, dit is nie die een nie.

Nuwejaar bring daarmee saam 'n hele klomp nuwe vooruitsigte, beloftes, moets en moenies - driekwart waarvan jy gaan vergeet en 'n kwart wat in elk geval nie presies gaan uitwerk soos jy dit in jou kop sien afspeel het nie. Dis op hierdie laaste dag van die jaar dat ek altyd daarvan hou om terug te kyk na die jaar wat was, met net soveel, indien nie meer nie, gewig as uitsien na die nuwe een wat ek môre-oggend met 'n groot kopseer sal moet aanpak.

Die jaar het begin soos hy moes. Tussen mense vir wie ek bitter lief is. Saam met die susters, swaers, niggies, hul aanhangsels, my eie exclusive en my Russiese vriendin. Is vroeg huis toe na 'n vinnige draai in Mystics. Nie omdat ek verveeld was of omdat Emiel ge-DJ het nie. Ek was tevrede.

Riku Lätti. Skip. Heinz Winkler. Skip.

LastFM se algoritme wat poog om te voorspel waarna ek sal wil luister is duidelik nog in die beta fase. Vusi Mahlasela. Dis beter.

Einde Januarie gaan ek en 'n vriend op 'n ekskursie na die Noorde. Ons begin die vakansie sonder hemde in RampDivas, Boksburg. Lang storie kort, ons was op pad Durban toe. 'n Goeie tyd gehad in die Durbanboks met ou skool pel - 'n voorreg wat my al hoe minder beval. 'n Koddige klein Portugees met terme soos "chicks china" en "I klapped him once" sorg vir vermaak in die mou.

Swaziland is die volgende stop waar ons sin probeer maak van ons wêrelde wat vinnig besig is om te verander en dit eens is dat "kommunikasie die valdeur is tot 'n volgende paradigma".

Lark speel. Ek het hulle saam met goeie vriende by Klein Libertas gaan kyk vroeg die jaar. Hulle was by die Ramfest ook, aangetrek soos poue en arende terwyl ons, voëls van eenderse vere, dans en drink en rook of in 'n tent sit en bewe want "shrooms tussen so baie mense is nie dieselfde as by Koffiebaai nie."

Julie. Verjaar in Pamplona saam met my eie exclusive tussendeur bulle, Sangria, rooi en wit geklede Spanjaarde en die malste fireworks wat ek in my lewe nog gesien het.

Goldfish in Londen. September. My realiteit. Ontmoet regtige cool mense wat die hele partytjie aan mekaar geslaan het. Dominic se groupies staan ongeduldig hulle oë vir my en rol maar ek voel verplig om hom te laat weet presies hoe bly ek is hulle is in Londen. Alleen uitgaan sal seker altyd 'n gunsteling ding wees om te doen.

Ek trek saam met mense, wat ek nou my vriende kan noem, in 'n kasarm van 'n huis in en ontdek die plesier van fietsry as alternatief tot die Underground se siellose gesigte en tieners met donnerse iPods wat hulle gaan doof laat teen 30.

Begin November. Bitter lukrake aand in King's Cross social club. Mense wat ek lankal moes mee tyd spandeer het en ander wat ek al vergeet het. Ewe skielik vind ek vir 'n aand die bekende in die vreemde verstrengel en voel, soos die begin van die jaar, tevrede.

Mean Mr Mustard. Skip

Jax Panik. Einde November. Vinnige SA kuier. Ek bevind myself saam met die einste vriend wat in Cigarettes & Cinnamon tights dra en fiets ry in Pe-too-ri-a se vyfuur spitsverkeer met 'n joint in die hand, 'n kilogram biltong en die belofte van 'n moerse lekker naweek saam met die fandamily. Verrassing vir vriende op die bos. Trane, ritte met sononder, lekker.

Zebra and Giraffe - Oxymoron. Dis mos maar wat Londen is. Die bittersoet wat ons moet endure om vir ABSA dankie te sê vir al die herinneringe wat ons bymekaar kon maak. Sy is dalk nie my stad nie maar dit is van haar dakke af wat ek vir die sterre staan en skree.

Voorspoedige 2010 maters. Mag dit reën waar julle bokke wei.

Gideon

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top