Iewers in die woestyn sit Alla-Din, ʼn woestynswerwer. Dis nag en dis donkermaan. Hy het nie veel besittings nie, maar sy kosbaarste besitting wat hy van sy oorle vader geërf het, is ʼn teepot. Alla-Din het so pas kookwater op die teeblare in die teepot geskink. Hy wag nou dat die tee moet trek.
Die stilte word skielik verbreek met ʼn gerommel wat van die teepot kom. Alla-Din kyk met vrees na die teepot. Uit die teepottuit is ʼn gedaante saam met die stoom besig om te verskyn. Alhoewel die gedaante grotendeels nog geen vorm het nie, is daar tog drie duidelike gedeeltes sigbaar. Teen hierdie tyd lê die arme Alla-Din al teen die sand en slaan die gedoente met wydgesperde oë gade; te bang om te roer. Die middelste stoomkolom is besig om die vorm van ʼn ou man met ʼn witbaard aan te neem.
Die kolom regs van hierdie gedaante is besig om die vorm van ʼn aantreklike jongman aan te neem en die kolom links van die ouman het die vorm van ʼn pragtige vrou.
Terwyl Alla-Din staar begin die kolomme praat; elkeen praat in ʼn afsonderlike taal. Alla-Din verstaan nie die tale nie en dit klink vir hom na ʼn Babelse verwarring. Nie een van hulle steur hulle aan Alla-Din nie. Dis asof hy nie eens daar is nie. Opeens bly almal stil; die oumankolom draai na ʼn oop kol in die oostelike gedeelte van die woestyn en praat weer in ʼn onverstaanbare taal. Op die plek waarna die oumankolom sy blik rig, verskyn water. Eers ʼn bietjie en dan meer en meer totdat daar ʼn aansienlike hoeveelheid water is. Die oumankolom praat weer en ʼn groenerigheid kom te voorskyn. Die oumankolom praat weereens en die waters krioel van lewende wesens en voëls vlieg onder die hemelgewelf bo die aarde. Altesaam praat die oumankolom vyf keer. Daar is nou selfs wilde diere. Dan swyg die oumankolom.
Alla-Din het intussen opgemerk dat dit begin lig word het in die ooste.
Nou praat die jongmankolom. Alla-Din bemerk jong vrouens wat te voorskyn kom. Dan swyg ook die jongman en die jongvroukolom praat en jong mans maak hulle verskyning.
Dan word dit stil.
Die oumankolom draai stadig om en spreek Alla-Din aan in ʼn taal wat Alla-Din verstaan. En so spreek die oumankolom:
"Ek is Yeshofa, die djini van die woestyn en saam met my twee metgeselle is ons die skepper van hierdie paradys wat jy aanskou. Dit het ons altesame ses ure geneem om hierdie paradys te skep. Nou gaan ons rus en hierdie rustyd gaan ons "teetyd" noem, want vir elke ses ure se werk behoort daar ʼn uur teetyd te wees." Yeshofa steek sy hande uit en daar is kliptafels daarin. Hy oorhandig die kliptafels aan Alla-Din.
Yeshofa gaan voort en sê: "Alla-Din jy mag hierdie paradys bewoon, maar op die terme en voorwaardes vervat in hierdie klipkontrak wat ek met jou het. Sorg dat jy terme en voorwaardes nakom anders sal dit swaar gaan met jou in die land wat jy bewoon. Verbreek jy enige van die terme en voorwaardes van die klipkontrak, dan sal jy vervolg word. Maar moenie vrees nie," en met ʼn gebaar wys hy na die jongmankolom: "Junior Counsel (JC vir kort) sal jou bystaan tydens die verhoor."
Alla-Din staan ewe oorbluf en skud bloot instemmend sy kop. "Wat," vra hy homself, "het ek gedoen om hierdie gawe te ontvang?"
"Niks nie, dis ʼn geskenk uit my deernis vir jou lot, Alla-Din," antwoord Yeshofa so asof hy Alla-Din se gedagtes gelees het.
En hier, liewe leser, onderbreek ek hierdie verhaal om te verwys na die aard van ʼn djini van die woestyn. Wie sal nou nie dankbaar wees teenoor so ʼn djini nie? Van nêrens verskyn die djini en gee die mens iets waarvoor hy nie gevra het nie.
Ons weet hoe die verhaal verder verloop. Mens pleeg kontrakbreuk, mens is skuldig en het nou ʼn held/advokaat/verlosser nodig. Djini verskaf die held/advokaat/verlosser en siedaar die mens is vry weereens. Die "kontrakbreuk" word ongedaan gemaak en die vorige kontrakterme word weer ingestel. Dan verbreek die mens dit weer en so gaan die eindelose kringloop voort.
Ons sien dus dat die djini teenoor dit wat hy gemaak het in ʼn sekere verhouding staan. Daar is ʼn punt in tyd wat die djini iets maak soos ons gesien het. Dan is daar ʼn tyd wat dit wat gemaak is bestaan of vertoef, maar daar is dan ook ʼn tyd wat die maaksel vergaan. As dit wat die maaksel vergaan, is die djini dan nog steeds ʼn djini? Of wanneer die djini weer iets anders maak word hy weer ʼn djini? Of is dit nie dalk bloot ʼn geval dat die djini as djini erken word wanneer hy iets maak nie?
En dit is altyd so; sonder ʼn skilder kan daar nie skildery wees nie en sonder ʼn motorvoertuig kan daar nie ʼn werktuigkundige wees nie. Sonder die paradys wat die djini gemaak het, kan die djini erken word as ʼn djini?
Dit lyk of die djini en dit wat hy gemaak het verganklik is, want op ʼn stadium was daar nie ʼn djini nie en daar was niks in die woestyn (in die verhaal hierbo) nie. Die djini het verskyn en dinge gemaak, maar op ʼn stadium gaan hy ook weer verdwyn en so is dit ook met sy maaksel.
En dit bring my dan by die onbeantwoorde eeu-oue vraag: wie was eerste, die mens of die djini? Met ander woorde: wie het aan wie lewe gegee?
Zhi
Bibliografie:
- ʼn Ou bekende geskrif wat gedeeltelik geskryf is in ʼn Midde-Oosterse taal en ʼn Oos-Europese taal.
- ʼn Sekere verhaal in die Duisend-en-een nagte en vertel deur die pragtige Scheherazade.
- Die skrywers van SêNet (met spesifieke dank aan Kobus de Klerk) vir inspirasie.


