Bokomo-brekfisbrief; 04/10/09: Onsterflike liefde

  • 0

Eish, met eish ja. Dis hoe ek die nuwe geite oppie werf gadeslaan. Nes by ons in Suidwes, waar die tannie al weer moerig agter die osse loop ploeg. Die ou Vaaljapie het sy laaste asem hard en olierig oor haar nuwe voorskoot uitgeblaas, terwyl ek die injector te groot loop stel het. Magtag, dit was omtrent ‘n gemors gewees. Toe kom byt ‘n klein hansgat spinnekoppie mos vir oom aan sy binneboud en die tannie moet loop vasvat agter die span donkerrooies. Planttyd is hier.

Smiddae skreeu ek vir haar om 'n lekseltjie koffie te kom drink wat sy tussen haar vuurspoegery staan-staan sluk terwyl fyn handjies spierwit vasgeklem om die erdekoppie. Die son is wragtag nie ‘n man se maat innie middae nie, die dat ek myself eerder tuismaak oppie day-sleeper, daar doer oppie stoep, innie koelte, en raad skreeu sodra die vore beginte skeef trek. Ma' ok net tot vyf uur toe, dan moet sy kom loop kos maak. Ek wil nie spinnekop gif kans gee om op 'n leë maag die oorhand te kry nie. Miskien moet ek môre vir haar ‘n hoed loop koop daar by ou Lewies oppie dorp.

Ma' vir haar bly ek baie lief, al is die vore skeef en brom sy onhoorbaar daar innie stof agter die osse. Magtag, wie anners gaat my versôre terwyl ek uitgeput vannie gif lê en vergaan. Al wat ek teen die tante dra is die moordende blik waarmee sy my aangluur wanneer ek vir haar skreeu om vir my nog ‘n koue bier innie yskas te loop kry. Dit kan ook wees oor die moeilike opdraand wat sy moet loop van die lande tot by die huis. Vir haar vertel sy moet dit agteruit loop dan is die paadjie afdraand.

Die bier wat sy nou-nou hier aangebring het, moet nuut oppie mark wees. Proe nogal nie onaardig nie. Siënna vertel sy het dit gemeng met 'n blikkie waarop Strignien staan, glo by buurman gekry laatnag toe hy en sy die kalwers gaat soek het wat uit die kraal gebreek het. Ek was natuurlik innie bed weens die gif wat my swak laat voel het.

Nou ja, ek wou maar net vertel het van ek en die tannie se onsterflike liefde. Sal weer volgende week skryf as dit die Heer se wil is.

"Siënna, meng nog ‘n bier met daai nuwe poeier. Ek wil nie vir Kobratjie roep nie, sy's daar by die onnerpunt vannie land en sal buitendien nie hoor nie."

Swerwer

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top