As jou foon vieruur die oggend lui dan is dit moeilikheid en klaar.
Dis nie asof jy dit nie verwag nie, maar jy wens dit gebeur nie. Jou vriend laat weet: Dis verby. Dankie vir die gebede, ens. En jy huil. Soos heeltemal te lank terug. Jy huil want iemand wat jou lewe tog 'n deeltjie beter gemaak het se lag en altyd-verstaan-glimlag is weggeruk. Jy huil want jy sal nooit weer die altyd-kalm-stem hoor nie.
En ek dink terug aan die oggend in Ararat toe die hysbak se deure oopgaan en jy met jou swaar tas daar staan. Ek ekke halfhartig probeer jintelman speel het en jou tas vir jou na jou kamer toe gedra het.
"Trek jy nou in? Wat swot jy?"
"Voedseldiensbestuur"
"Pak solank uit en dan maak ons vir jou koffie. Anderkant by 607."
Ek dink terug aan die aand wat jy my beduie het dat jy die liefde van jou lewe gevind het. En ek was bly, want hy is my beste pel. Ek dink terug aan hoe ek jou gesien blom het. Jou vrouwees tot volmaaktheid gekom het toe jy vir my jou dogter wys. Hoe trots jy daar gestaan het. Ek onthou hoe jy jul huis in 'n paleis omskep het. Ek weet van jou ondankbaar gespandeerde, en die ontelbare ure wat jy aan jou studente gewy het. Toe ek kla oor die standaarde wat so verval het jy in jou kalmte bloot beduie: "Dis my werk, Oester, dis my passie." Ek kon jou passie verstaan al het ek nie saamgestem nie.
Ek kon verstaan dat mens tevrede moes wees om jou en my groot beer net af en toe te sien, want hierdie Wonderland is nie net genadig nie, maar is ook baie wyd. En ek dink terug aan toe ek jou sien kwyn het. Hoe jy dit waaroor ander mense sou sanik afgelag het as "sommer niks". Want die pyn het tog vlak in jou oë gele, Mandy.
En ek sit hier en ek wil dit die berge ingil oor hoekom en waarom en ek drink myself in 'n koma in want ek verstaan. Maar ek wil nie. Ek weet nie hoekom die mooiste blomme altyd eerste gepluk moet word nie. Ek wonder dikwels waarom die wat soveel boosheid gedoen het so lank moet leef, waarom jy moet gaan en ons hier moet sit en wag vir die volgende een nie. Is dit mens se straf?
Want ek
Die pyn en seer lê bitter vlak, maar dit kon nie anders nie, kon dit? Jy het so voluit gelewe dat tyd net te vinnig uitgeloop het. Ek gaan jou mis, wonderlike mens. Ek gaan die feit mis dat ek met lang paragrawe kom en jy in een sin meer waarheid en waarde kon spreek as tienduisend filosowe. Ouens soos ekke gaan dood en word vergeet of moet staatmaak op letters op 'n koue stuk klip om te beduie wie ons was. Dis die stil, sterk en onvergeetlikes soos jy wat vir ewig bly.
oester
(Jammer oor jou verlies oester. En baie sterkte. Webvoet)


