Bokomo-brekfisbrief; 04/08/2010: Lorriedrywer in die groot stad (V,L, en dalk P)

  • 0

M is mos soort van legende hier rond om die mees verkeerde redes. Want poliesman wat heeldag moet lyke optel en dikwels bekendes moet bymekaar maak uit wrakke uit en hulle later moet "oopmaak" vir die distriksgeneesheer jaar in en jaar uit kan mos nie normaal bly nie. Ek onthou die dag wat ek by hom ingekom het hier waar die dooies lê en wag om oopgemaak te word toe hy argeloos sy toebie uit einste yskas haal waar die organe in gebêre word. En so al kouende beduie na die mens op die tafel asof dit net nog 'n objek is. Hy het nog 'n grap vertel maar die grap sal nie hier deug nie.

So kort ons 'n drywer wat die paaie rondom Jo'burg goed ken. Want as jy 'n 30 ton koel vrag vinnig by die mark moet kry kan jy nie sukkel met iemand wat nog gaan loop verdwaal nie. En M, rondom 'n vuur een laatnag, beduie dat hy in sy af dae tog net lê en sy vrou se siel versondig, so hy kan ry want hy het swaarlisensie. En so het ons 'n "betroubare" drywer.

Bygesê, M is so mal soos 'n haas (dit weet ons nou eers) en erg trigger happy.

Die aand toe hy bel (selfone was toe nog bakstene en ek onthou ek het met 'n kleurskerm Samsung die oproep beantwoord) en beduie dat die omgewing nie so bekend is soos toe hy dit laas gesien het nie moes ons eintlik klaar lont geruik het. Want na sy beskrywing van die omgewing kon ons aflei dat die ou in Soweto sit (as jy jare daar as 'n poot gespandeer het dan ken jy die omgewing). Hy het laat afgelaai maar gelukkig nie so laat dat dit geld gekos het nie.

En so het hy sy eerste trippie suksesvol afgehandel en die Volvo sonder merkbare skade terugbesorg. En sy paar rande op die gesin loop spandeer by Gourits.

So twee weke later is hy weer met 'n vrag op. Hoekom nie? Hy ken mos nou al die pad?

As jy twee uur die oggend 'n oproep kry is dit beslis nie iemand wat vir jou beduie dat jy die nuutste Lotto-miljoenêr is nie - dis slegte nuus, punt. En so kom die oproep deur en M beduie dat hy op die snelweg is van die lughawe af (wat de fok soek jy daar?) op pad Jo'burg toe? Die ou beduie dat iemand besig is om hom te Hijack en hy bel bloot om te vra wat alles gedek is met die versekering.

As M vir jou daardie tyd van die nag bel en sulke vrae vra dan gaan jy onmiddellik in krisisbestuur in. Want M is, wel, nie soos ek en jy nie. Hy dink anders. Of liewer, hy doen en dan dink hy. Soms.

Dit was nie 'n uur later nie toe die landlyn en selfone lui asof die oordeelsdag op hande is. Want toe is dit poliesmanne en M en wildvreemdes wat dreig en smeek en skade eis.

Later kry ons die detail:

M het iewers verkeerd afgedraai en toe iewers, baie later omgedraai terug Jo'burg toe. Laat in die nag. En met die terugry het hy dinge net verkeerd gelees, want die standaard Volvo-perd het redelik perde onder die kajuit. Die goed kan verdomp loop as jy hulle bietjie druk. En so het M gery en die motortjie kon net nie verby nie en het maar agter hom gehou. M het dit helemaal verkeerd vertolk want hy dog hulle wil hom hijack.

En dis toe hy maar die oernatuur laat oorneem. Die ondersoekbeampte sê dat hy al karre gesien het wat verniel is, maar dat iemand uit die wrak lewend uitgestap het iewers 'n hoër hand moes verg. Want M het die kar bekyk in sy spieël en toe afgeslêk dat arme Pietie (wat hom glo wou hijack) kon verbykom, en toe bloot tot bo-op die karretjie gery.

Die skade? M ry nie meer vir ons nie.

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top