Dit wil vir my voorkom (sê my of ek verkeerd is) asof armblanke Afrikaners nie werk wil doen wat hulle as die tradisionele swart arbeid beskou nie, al sou dit hulle van 'n inkomste voorsien. Pleks daarvan om op eie inisiatief vir die samelewing produktief te wees, sal hulle eerder bedel en kapitaliseer op die jammerte vir hulle deur mede-Afrikaners wat hulle (verkeerdelik) as die "produkte van regstellende aksie" sien.
Ek het nog nie 'n blanke gesien wat:
fisiese tuinwerk doen;
'n straatveer is;
saam met die vulliswaens ry;
by 'n robot smous; of
enige vorm van togarbeid doen nie (staan bv by optelpunte vir togarbeid, soos bv straathoeke).
Wat ek wel telkemale gesien het, is blankes (oorwegend Afrikaners), wat met hulle bedelbordjies by robots staan en bedel terwyl swartes by dieselfde robot, langs hulle, produktief verskillende goedere smous (swart sakke, donkerbrille, vrugte, groente, selfoon-chargers, ens).
Hierdie einste swartes (soos hulle arm Afrikaner-eweknie) is ook toevallig nie deur regstellende aksie bevoordeel nie.
Ek vra myself af: Het Solidariteit, Afriforum, Praag, Afrikaanse gemeentes, die VF+, Afrikaanse koerante en al die ander Afrikanerbehepte organisasies enige program in werking om arm Afrikaners se "mindset" ten opsigte van die sogenaamde tradisionele swart arbeid wat hulle skynbaar nie wil doen nie, te verander sodat hulle, in plaas daarvan om te bedel, hulle op produktiewe wyse 'n eerbare inkomste kan verdien?
Afrikanergroete
Dan Fourie


