Bokomo-brekfisbrief; 04/08/08: Verdwyning van Meltie Boy

  • 0

Liewe SêNetters

In geval julle gewonder het waarom daar so prominent vir SureSlim geadverteer word op die LitNet-tuisblad? Wel, tydens die boekbekendstelling van Willemien Brümmer se debuutbundel kortverhale in Protea Boekhuis, Stellenbosch, die afgelope Saterdagoggend, het daar so 'n slank-elegante jong mannetjie rondgeparadeer met sy kamera om teenwoordiges af te neem. Dis eers toe ek sy kenmerkende praatstem en aansteeklike kontratenooorlag gehoor het dat ek besef het dat ek die ontdekking van die dekade gemaak het! Meltie Boy wat verdwyn het is hergebore in 'n nuwe gedaante, 'n formidabele 9 kg gewig verloor in net een kalendermaand se gesonde lewe – of dalk liewer oormaat van gruwelike maar tog so lekker kwajongstreke!

En die geheim? Sure Slim!! Maar nou lê daar nog 'n geheimsinnige iets om op te klaar. Dié van julle wat soos ek dalk gereeld 7de Laan kyk sal kennis geneem het van Gita, die slinkse waarnemende redakteur van die Hillside Times. Sy het mos terugskoppe (kickbacks) gekry van al die spa’s waarheen sy Paula gestuur het om uit te probeer vir artikels wat die spa moes prys en aanbeveel, en as sy dit nie self in die artikel gedoen het nie, of meer nog, dalk erg krities was oor dienste gelewer, het Gita dit aangepas om hemelhoog te prys terwyl die geld ingerol het na haar private bankrekening.

Meltie Boy!! Hoeveel het die kursus jou gekos, of is dit ook 'n Hilside Time tipe "een vir jou en een vir my"??

Never'maain, ek dink dis fantasties dat hulle die vetrolletjies so kon laat verdwyn met al die pamperlang en masserings wat daarmee gepaard gegaan het. Hoe lyk die masseur/seuse?

Hoop julle het Saterdagaand gekyk na die opehartoperasie op televisie om ons almal te herinner aan die gevare van hartsiekte as gevolg van verkeerde lewenstyl en eetgewoontes. Meltie Boy, ek dink jou kanse vir 'n hartaanval het drasties gedaal.

Melt Myburgh, kom kniel voor die Omie en ontvang hiermee die pas aangekondigde prys aan die SêNet-skrywer of bestuurslid van LitNet wat besonder beïndruk en presteer het:

Dus, die (K)Nobélprys vir volharding en deursettingsvermoë aan inhoudsbestuurder, Melt Myburgh, wat nou rondloop met aansienlik minder liggaamsinhoud om te bestuur as tevore.

Hartlik met die besondere prestasie!!

"Die goeie dokter" Deon Knobel

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top