Ek het FB se brief van die Poolse besoeker nogal met nostalgie gelees. (Die manlike van ʼn Pool is ʼn "Pole" die vroulike is ʼn "splitpole".)
In my vorige lewe was ek by die goewermentsdepartment waar ek gewerk het, verantwoordelik vir skakeling en rondrits met besoekers uit die buiteland. Die besoekers was hoofsaaklik Europeërs, Oosterlinge en so nou en dan Afrikane. Gewoonlik het hulle hier in ons wintermaande aangekom. Die programme het altyd ʼn besoek aan die Wille Krugertuin, Sun City, Kaapstad en die plaaslike besienswaardighede in en om Pietoria ingesluit. Die Europeërs het die Wilde tuin geniet. Die Oosterlinge het weer uitgehak in Sun City en die Afrikane het hoofsaaklik net kom inkopies doen.
Tydens ʼn besoek aan die Wildetuin met ʼn klomp Oosterlinge is daar rondgery en die plantegroei en diere is aan die groep verduidelik/bekendgestel. Op ʼn stadium raak die mense stil en toe ek sien, sit almal en slaap. Die kollega van my skree toe ewe skielik "Snake!", en al wat Sjinees is ruk kameras uit en neem foto's van die verbouereerde pofadder wat net uit die pad wou kom. Renosters was ook die gewildste diere wat afgeneem is.
Op ʼn stadium het hier ʼn groep Hongare en net daarna Taiwannese kom kuier. Soos die noodlot dit wou gehad het, was dit paartyd in die wildetuin. Van die skilpaaie tot die vlakvarke het mekaar gas gegee. Die Taiwannese het die varke se spektakels geniet en die Hongare was weer bekommerd oor die renosters. Die Fransmanne en Spanjaarde wou weer net jag.
Tydens die besoeke is ons ook genooi om op hul rekenings te kuier. Een so ʼn geleentheid is ons in ʼn Sjinese restaurant as BBP's behandel. Ek het sekerlik nie na die "briefing" voor die tyd geluister dat as jy saam met die manne kuier, sorg jy dat jy ʼn klein dop in jou hande het nie. Ons word die aand toe deur die hogere manne van hul ambassade onthaal en is die tradisie, as hy na jou kyk, sy glasie na jou wys en iets sê wat klink na "kambaai", moet jy sluk wat in jou glas is, want hy sluk alles in sy glasie. Van ons was besig met die vitamine B&C (Brandy en Coke) en ander weer met glase wyn. Gou-gou was die stywerigheid daarmee heen en is daar goed gekuier.
Daardie tyd het ek "meat tenderiser" gesnuif, geëet en binneaars gevat om my lewer sag te hou.
Reusedwerg


