Jy moet nie die dominee se goete lees nie want dan word jy nie ontstig nie, man.
Ek bekyk daardie snoek wat jy so versigtig vashou en toe wonder ek of jy eers sy nek gebreek het, hehehe. Want 'n snoek is mos 'n wetter as jy hom nie versigtig hanteer nie. Jy moet hom mos maar eintlik met 'n handlyn uitbring tot hier bo by ons mensekinders se wêreld en dan moet jy hom hier onder jou kieliebak inkry dat jy sy nek
Ek wil nou nie allerhande godsdienstige goete praat met jou nie (netnou spring die ouens weer op my lewer [wat reeds hard genoeg moet spook met sommige brode in bottelvorm] en moet ek weer bontstaan, maar jy moet as daardie vis uitkom boontoe vir hom dankie sê dat hy vanaand die klogoete se magies volmaak. Glo my, dan sal jy sien hoe spring hulle sommer in jou skuit in soos Springers laatnag met 'n lig soms doen. Hehehe, ek spot sommer.
Ek wil nou nie vir jou beduie van kosmaak en sulke lekker dinge nie, maar daai snoek moet jy nie sommer net op die kole gooi soos die Weskusmanne beduie nie. Hier in Oesterland het ons 'n ander manier van te werk gaan met daardie natlyf (nie dat ek nie dink jy weet hoe nie):
Jy meet daardie natlyf so met die oog en dan loop haal jy die foelie. Dan maak jy so 'n vlak bakkie met einste foelie. Intussen sit jy jou botter (250g) en appelkoosjam (nie konfyt nie, en so halwe blikvol) en suurlemoensap (so 'n halwe bottelvol) langsaan op die kole of sommer op die stoof. As daardie kole nog goed gloei dan sit jy jou bakkie op en jy laat lê daardie (gesoute) snoek saggies in daai bakkie. En nou gooi jy jou jammengsel oor en laat hom so in die soet en suur kook tot hy behoorlik dood is. Jy sal hom so met die oog sien as hy reg is en dit is waar die geheim inkom: Nou draai jy daardie besigheid om (gooi eers die souserigheid af in 'n hol ding of iets dergeliks) en dan laat jy daai natlyf goudbruin braai sommer so met die foelie aan sy velkant.
Sit hom op die tafel en laat die ander mense eet terwyl jy so aan jou ander kossies peusel. Laat hulle die ruggraat sommer na jou kant toe aanstuur en dan breek jy hulle een vir een oop om daai natlyf se murg uit te eet. As almal klaar is dan pak jy daardie foelie beet en jy eet die vel en vleiserigheid wat so in die souserigheid vasgebrand het. Man kyk, as jy vir my beduie dat 'n rib wat vir twee dae lank gehang het en vinnig op die kole gegooi is dalk lekkerder is sal ek jou dalk glo, maar ook maar net-net.
Jy was nou regtig sommer aspris. Want hoeka is van my manne Sondag weg om einste natlywe te loop uithaal en hier "vermaak" jy mens met foto's en goete. Mens maak nie so nie, man!
Groete uit Oesterland,
oester


