Ek weet nie hoe bekend is julle met die suide van ons land nie? Dis mos maar 'n karige, kaal wêreld op beste van tye en 'n plek waar die skaap amper met 'n fiets van bossie tot bossie moet ry. In die droogmaande voor die reën dan kan dit vrek sleg raak en dan moet die boere ander plan maak om hul skaap aan't lewe te hou. Dis dan wat die regering hulle toegelaat het om in die Spergebiet in te trek onder permit om hulle skaap in noodweiding te laat wei. Daar is boorgate in die woestyn geboor en die boere moes dit self installeer met die nodige om die water onder die grond uit te kry, maar dit was 'n 'bargain', want sonder dié weiding sou vele boere nie 'n spieël nodig gehad het om hulle gatte te sien nie. Die feit natuurlik dat die trekboere almal saamgegooi het vir die installasie, het dit dan ook weer makliker vir almal gemaak. Hierdie noodweiding het dus soort van soos 'n wawiel gewerk rondom die boorgat. Die trekboere het rondom die gat in alle rigtings bewei en so elke twee dae het elkeen 'n suipbeurt gehad en dan het die ou sy skapies water toe gebring. Omdat die Namib mos maar oor die algemeen plat soos 'n pannekoek is, kon mens letterlik dae vooruit sien wie kom water toe en wie is by 'die huis'.
Die trek van die skaap was nie maklik vir alle mense nie en meestal was dit maar die mansmense wat alleen getrek het met die vroumense wat alleen op die plase agtergebly het. Soos die tyd dan loop en die manne se behoeftes raak te veel op 'n knop, dan ry hy maar vir so 'n naweek of wat terug plaas toe om sy huiswerk op datum te gaan bring en weer so bietjie te ontspan. Tog was daar gevalle waar alles nie so lekker wou werk nie. Oom Tom se baie aanvallige vrou was baie jonger as hy en haar gewilligheid het gemaak dat as oom Tom se stoffies nog skaars verdwyn het op die trekpad, dan is van die omgewing se gewilliger manne op die plaas en dan kuier hulle te lekker.
Oom Tom het hiervan gehoor en hoewel hy dit nie kon bewys nie, dag hy dat hy 'n plan maak en sy vrou moes die volgende jaar saam op die trek gaan noodweiding toe. Dit sou eers heelwat later opgelet word dat van die jonger manne wat nog nóóit naby die noodweiding was nie, nou voor in die koor op pad Namib toe was! Nou vertel hulle dat oom Tom, as sy skaap se suipbeurt die dag daar is en hy moet saam met sy skapies boorgat toe, dan sit hy daar op so 'n klipknop met sy verkyker en bespied die omgewing só om seker te maak niemand gaan kuier by sy vrou nie. Maar die manne se lus had g'n blus nie en het van hulle al vroegdag begin ry met so 'n laaaang draai om agterom sy staanplek te kom tot agter die naaste duin en vandaar 'leopard crawl' hulle oor die duin om by die heuningpot uit te kom!
Duidelik had lus ook g'n brieke nie ...............
NAMIB


