Bokomo-brekfisbrief; 04/03/2011: Van sterk mense en hulle dinge ...

  • 0

Nou die dag reken ’n jongerige toeris met groot arms en ’n baie nou T-hemp vir my op Swakopmund by ’n diensstasie dat hy eintlik baie teleurgesteld is in die Van Zyl's-pas in die Kaokoveld en was dit maklik om die ding af te ry, hy had sommer lus en ry hom sommer uit ook. Weet glo nie waaroor al die “hype” gaan nie. Toe ek hom vra of hy die pas sal aanvat in 2x4, toe reken hy vir my ek is seker laf? Hoekom sal hy dit wil doen? Ek sê toe vir hom dat die mense van daai wêreld, in die dae toe daai pas gebou was, geen 4x4's gehad het nie en moes hulle swaar gelaai daai pas oor en moes hulle elk ’n paar man saamvat om die pad “te bou” daar waar hy te diep gate uitgespoel het. As hulle ’n te steil klipbank moes oor, dan staan daar manne weerskante van die voertuig met groot klippe in die hand en dan ry die drywer die kar op sy “clutch” tot hy die momentum het en dan spring hy die kar op en oor die klipbank en dan gooi die manne met die klippe die klippe agter die wiele in om die voertuig te laat hang voordat die koppelaar uitbrand. Die ou skud net sy kop en reken die mense moes gek gewees het en ek staan en kyk hom so met sy sagte hande wat sekerlik nog nooit regtig hard gewerk het nie, sy groot geoefende spiere en ek dink aan ’n ding wat doerie jare in die Kaokoveld gebeur het:

Oom Faan was wyd bekend in die omgewing as ’n vreeslike sterk man. Oor hom is baie stories rondom die kosvure gepraat. Hy kon ’n voorstamper se boorpunt op ’n wa laai. Om ’n vol drom diesel op ’n bakkie se klap te tel, was vir hom normaal. Maar soos mense nou maar is wat so kuier, meestal nog met ’n dop in die hand ook, kry die stories baard so met die tyd saam, maar een ding was baie seker. Oom Faan was ’n sterk man. As mens hom so alledaags sien, dan loop hy met sy kakielangbroek en hemp, vellies en groot hoed op die kop rond en behalwe dat hy ’n volle 6'4 lank was, sou jy nie gedink het daar is iets spesiaal aan hom nie. Maar net nog ’n boer, so what?

In die kontrei, by die garage op die dorp, het ’n jong man kom werk en die kêrel was ’n yslike spierpaleis gewees. Hy't geoefen dat die rook behoorlik draai. Sy overall wat hy gedra het, die se moue was afgesny om sy groot bo-arms mooi te vertoon en voor was die overall tot op sy middel oop om sy maagspiere toon te stel. Sommige naweke het hy dit in ’n rugbytrui gewaag en dan amok gesaai onder die plaaslike manne wat nie meer so lekker jonk en fiks was nie. In die aande na die rugby was daar by die kroeg gaan drink en kuier en mens kon seker die outjie verskoon as hy begin dink het hy's die koning van die Kaokoveld. Hy het so met die tyd ook gehoor van Oom Faan, maar dit eers afgelag en later vir almal om te hoor gesê dat as hy die oom op die lyf loop, dan sal hy hom sommer vinnig afstof net sodat almal kan sien nou wie's die groot perd van die kontrei.

Oom Faan, met die skindery in die kontrei, het natuurlik van die afstowwery gehoor en dit geïgnoreer, maar op ’n dag ry hy en sy ou swaer op pad doer na die agterveld toe waar hy ’n stuk weiding byhuur en waar ’n windpomp nie meer so lekker werk nie. Hulle ry nog so en toe sien hulle ’n bakkie staan aan die kant van die pad en dis toe die garage se bakkie met ’n pap wiel en onder die kar lê die jong man, waar hy sukkel om die domkrag in te wikkel onder die vooras want die grond was te hard en die kar lê te laag. Oom Faan hou stil en hulle klim uit en sien wat aangaan en stap nader. Die bakkie se bonnet staan oop en Oom Faan lê so oor die kar en loer by die enjin verby na waar die jongman lê. Dié sien wie dit is en verstar onder die kar.

"Môre oom," seg hy. "Ek sukkel om die domkrag onder die as in te kry."

"Nou laat ek help," sê Oom Faan en met die vat hy die bakkie aan sy voor bumper en tel die kar in die lug in op en sê vir die mannetjie om die domkrag in te skuif. Die maak so en hy laat sak die kar. Maar die mannetjie bly lê onder daai kar of hy daar geplant is! Gee toe so ’n lam verskoning van hy maak ook nog iets anders onder die kar reg wat ook nou stukkend is, baie dankie, hulle kan nou maar ry.

Terug in die bakkie gee Oom Faan net so harde grinnik en sê dan vir sy swaer hy wonder vir wat is daai windpomp nou weer steeks?

Namib

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top