Bokomo-brekfisbrief; 04/03/2010: Taxis

  • 0

Ry vanmiddag by 'n toneel verby, en dit het nogal herinneringe teruggebring. Poliesvan het 'n Taxi afgetrek. Met 'n paar manne in. En toe stop daar sommer nog twee taxis om self uit te vind wat aangaan. Onmiddellik het jy 'n plofbare situasie veral omdat daar binne tien minute letterlik ses poliesvans gestop het om 'n situasie wat veronderstel was om deur een persoon hanteer kon wees uitgekring het tot 'n herrie. Nou het ons "'n situasie".

Soos mens mos maar is probeer jy sin maak uit enige situasie en mens kyk die dinge veral met die persepsie wat geskep is: Taxis is mos hierdie euwel wat verkeer ontwrig, wat met 'n koevertjie met note in deur die toets gesit word. Taxis is irriterend as mammie met haar duur Benz haar "bediendetjie" (of "die meid") gaan aflaai soos 'n hierjy rondjaag en stop net waar hy wil. Haar kosbare pad waarvoor pappie hard belasting betaal loop en versper. Hoe durf hy? Hy het tien teen een nie eens 'n lisensie nie (moet net nooit noem dat jou eie pappie destyds jou lisensie met 'n skaapboud "georganise" het nie.) en kan nie bestuur nie. "Die bleddie ding is nie eens op die pad nie! Waarom kan mense nie ordentlike karre ry nie?"

En so neul mammie by pappie om tog die burgemeester of verkeershoof (hy kry elke jaar sy bottel KWV) te bel om hierdie "bleddie taxis" wat al die wette oortree vas te vat. En dan sit jy met 'n plofbare situasie waar gewone poliesman riot gear moet uitpak as hy 'n taxi wat haastig op pad iewers heen is (tyd is geld en passasiers aanvaar nie slim verskoninkies nie, en is tien teen een in elk geval laat) moet aftrek omdat pappie lekker gekonnekteer is en uit frustrasie met mammie se geneul vir omie landdros en omie verkeershoof mooi beduie dat hy nie gaan rus he tuis alvorens hulle hierdie euwel vasvat nie. (En dit doen hulle so onderlangs by die gholfklub en skemerpartytjies).

Nou ry ek haastig op pad bank toe agter einste mammie in haar designer Benz. Sy het nie genoeg maniere in haar verveelde, bevoorregte lewe geleer om net effens (ek sê nie sy moet tussen die bosse langs die pad inbeweeg nie) pad te maak nie (sy sit tien teen een met 'n "invoice" dat sy die pad gekoop het). Want ekke het nie "'n meid" wat ek moet loop aflaai nie. Watse ding is "'n meid" in elk geval? Ek dra ookie my veiligheidsgordel nie en ry anyway oor die spoedgrens.

En toe dink ek aan "Eina Poppie". Ou Bester se broer. Eina Poppie het nie met sy gat in die botter geval nie. Hy het sy lewe lank altyd kort duskant die wet se streep beweeg. Eers gesmokkel. Drank, so bietjie aaptwak, nooit harde goete nie. Later saam met Bester 'n Tavern ingerig. Lank gespaar tot hy vir hom ook 'n Hi-Ace kon koop. Sonder "licence". Flentergat ding by een of ander skelm (blanke) handelaar gekoop. Geleende kontant, want geen designer bank sou hom tog help nie, sou hulle? Banke help jou in elk geval net as jy reeds te diep in die skuld is. Ek onthou soos gister toe Eina Poppie en Bester vir Ra Mavenster hul laaste afbetaal koevertjie bring. Hoe hy kaalbek gespog het dat hy nou ook sy eie Taxi het. Hy't belowe hy sou sy licence nog in die jaar kry, want Mavenster het dit as voorwaarde gestel voor hy die geld voorgeskiet het.

Ek sien hom hoe hy hier by Park Side Wes afjaag en hoot vir elke vrou en potensiële kliënt (ek wonder steeds of dit oor die besigheid en of dit oor die "byvoordele" [sy vroutjie breek elke been in sy lyf as sy so iets moet agterkom] gaan). Hoe hy letterlik by die deur uithang en sy arms swaai as hy ons ou (ewe) flentergat-bakkie gewaar. En dan skreeu hy uit volle bors: "Eina Poppie!" Nugter weet waar die naam vandaan kom maar hoekom sal mens hom so iets in elk geval vra?

Annerdag toe ons vir Ra Mavenster loop bêre het hier op die koppie toe daag Eina Poppie in sy nuwe Volkswagenbus op. Volgelaai met roubeklaers. Hy het sy mense, my mense, gebring om saam te kom huil. Nadat ons gat toegegooi het vra ek hom oor hierdie designer Yuppie-bus waarmee hy nou so rondrits. Ek sien die trots uit daardie liggaam straal toe hy beduie: "Ek het hom cash gekoop. Sonder die bank". Hy was nie by die tee nie, wou eerder help slabs opsit en gat toegooi.

Op 'n vreemde manier pas hy tog nie vir my lekker in hierdie nuwe taxi met al die lugversorging en sitplek wat rondskuif volgens jou aambeie en armleunings in nie. Ek wil hom nie in sy ou Hi-Ace sien omdat ek hom sukkelend wil sien nie. Ek wil hom daarin sien omdat dit die tyd was toe sy gums gewys het as hy gewaai het. So asof sy glimlag ekstra wyer was. Dis asof hy nou nie meer Eina Poppie is nie maar net nog 'n suksesvolle sakeman soos al die ander ... naaaaaaaaa, Poppie sal altyd Poppie wees. Die bling is eintlik vir die "eye blind".

"En die ou Hi-Ace?" Nee, beduie hy, die Hi-ace is nou die kinders se speelplek. Soos ek vir Eina Poppie ken het hy tien teen een lankal 'n kleuterskool begin doer bo in Kwa waar die ryk wittes net kom as dit nanag is. Dis my eie skuld dat ek nie meer tyd maak om daar uit te kom nie. Dis my eie slegtigheid as ek my vriende verwaarloos. Jy weet, ek is so 'n swak vriend dat ek nie eens op my vriend Bester Mayekiso se begrafnis was nie. Mens ry sommer lag-lag agter 'n casino aan maar wroeg as jy moet Oos-Kaap toe vir 'n groot man se begrafnis?

Toe ek so wegry by die "scene" met die blou ligte wat flikker en die poliesvans wat in massas aangery kom toe dink ek aan die onreg dat ek verby 'n spietkop ry terwyl ek nie my veiligheidsgordel aan het nie. Hulle ignoreer my en stop 'n taxi vol mense op pad na hul werk toe bloot omdat ons met witbrode onder die arm kla? Ons ongerief by die robot as die taxi mense op pad werk toe aflaai weeg swaarder as 'n industrie wat aan die gang gehou word? En toe wens ek in my stilligheid (jajajajaja, ek weet dis verkeerd) dat die poliesmanne lekker op hul moer kry.

Mathiso Tavern doen steeds goed deesdae. Eina Poppie kyk maar dat die kinders nie te veel geld mors nie. Hopelik raak hy nie so ryk dat hy my vergeet soos ek vergeet om by hom te loop kuier nie. Moet sê, 'n Windhoek proe om een of ander vreemde rede altyd beter as ekke hom daar drink. So tussen die rook en harde musiek (ten minste het hulle nie vir Kurt of Steve op die luidsprekers nie) en luide dronkgatte. Dalk is dit sy oorweldigende persoonlikheid. Dalk is dit omdat mens nooit te ver moet beweeg van dit wat regtig in die lewe saak maak nie.

oester

NS Eina Poppie se regte naam is nie ter sake nie. Hy is wat meeste van ons droom om te wees: Gelukkig en suksesvol.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top