Rosenmontag lê nou alweer 'n hele week terug, maar ek wil nogtans vertel. Die karnavaloptogte al langs die Ryn af is eintlik 'n Katolieke gebruik, maar baie prettig en lok al wat leef en beef. Dis die dag waarop mens vir oulaas kan uitrafel voordat die vastyd begin wat tot Paasfees aanhou.
Ek het gewonder waar die woord nou eintlik vandaan kom, en het gedog dat daar dalk 'n verband bestaan tussen 'n rosekrans en die optog, maar dis nie die geval nie. Etimologies het die woord Rosenmontag 'n baie interessante oorsprong. Die karnaval stam uit die vroeë Middeleeue, uit 'n era nog voor die gedwonge kerstening van die Duitsers. Die ou Germaanse gebruik was om in Februarie die winter te verjaag. Baie van die tradisieryke houtmaskers en kostuums van Rottweil beeld dit goed uit. Die katolieke kon nie die ou gebruike uitwis nie, en het dit toe so 'n Christelike lagie gegee.
Die woord Rosenmontag stam egter eers uit die 19de eeu uit, en verwys na die Maandag voor Fastnacht. In die dialekte van die Rynvallei verwys die woord na rosen(d)montag in die sin van rasen of mal gaan - vir oulaas nog, voor ses weke lank gevas moet word.
Laas Maandag besluit die familie toe in gelid om op te ruk na die karnaval in Duseido (Düsseldorf). Eintlik skryf hulle dit du sei do, want die plaaslike patriote, wat glo do bes de platt die platt dialek is die beste, spreek dit as aparte woorde uit.
Die trein soontoe was reeds stampvol, en mens kon skaars nog 'n staanplekkie kry, wat te sê lug. Brassery is deel van die "narresprong" en die alkohol het maar vryelik gevloei. Ek het met verlangende oë na die Sneeuwitjie en die bose wolf se rooi-en-groen "krale" gekyk. In die rooi botteltjies was suurkersielikeur en in die groenes kruielikeur. Dit het geklimper sover hulle geloop het, en af en toe is ene nek omgedraai.
Niemand is oor die hoof gesien met die temas van die sierwaens nie. Die blapse in die Vatikaan oor biskop Williams is verkarikatuur. Die arme Angela is as die spreekwoordelik keiser sonder klere voorgestel. In Düsseldorf is sy as die wolf-ma van Romulus en Remus met ses reuse tiete uitgebeeld saam met alle spektakels van politici om die ekonomiese krisis af te wend. In Keulen het hulle geskimp dat sy op 'n dieet moet gaan met 'n ou en nuwe Angela. Hulle moes toe dele van die naakte Angela ietwat bedek op die ou einde.
Vir my persoonlik was die snaaksste sierwa ene wat Barack Obama uitgebeeld het as 'n vliëende engel in "stars and stripes". Op die wit vlerk van die engel was daar groot geskryf: "Yes, we can!" Maar die beste kom nog: Obama het die godin Europa in sy entourage gehad. Sy het die Europese Unie se blou gewaad met 25 sterre aan gehad en vir die vale aan sy "beste dele" vasgeklou, en met 'n vet smile verkondig: "We too!"
Ons het ons sambrele by die huis vergeet - 'n dubbele ramp, want dit het tussendeur gereën, en verder het ons toe ook nie iets gehad om die kamelle (lekkers) wat van die sierwaens gegooi is, op te vang nie. Daarvoor het mens 'n omgedopte sambreel nodig!
Ahoi!
Krautie


