Bokomo-brekfisbrief; 04/02/2010: Soengroet of nie?

  • 0

Dis nou een van daai dinge wat 'n tameletjie is vir my. Mens word mos van kindsbeen geleer om die familie te soengroet as daar 'n gathering is. Kom sussie, gaan SOEN die tannie! En jy wat so halfhartig nader sleepvoet, nie baie lus nie. En dis nie anderhalfminuut nie, dan sê ma weer, sussie, jy het nog nie vir oom Boet gaan soen nie. Jy loer onderlangs na die oom, papperige lippe, so effe nat, en jy gril.

Vandag is dit nog baie dieselfde. Dis 'n aangeleerde ding. Waar ek kan, probeer ek dit vermy, maar nie almal laat dit toe nie. Vat nou maar vir skoonma. Sy is nog van die baie ou garde en ek moet haar maar soengroet, al bly ons in dieselfde dorp. As ons by hulle gaan kuier, met die aankomslag EN met die vertrek. *Sug*

My groot gril het gekom toe ek ook een mooiweersdag vir skoonma moes soengroet. Sy het 'n effe verkoue gehad (wat sy natuurlike nie verklaar het nie!) en toe haar lippe myne tref voel ek dadelik die nat druppel wat op die punt van haar neus gesit het, sit nou op my bolip. En om als te kroon mag ek nou nie my mond afvee nie, dit sal te ongeskik wees. Ek moes wag tot almal die huis in is voor ek die eerste twee lae lipvel-epidermis probeer afskraap het.

Dit sorg natuurlik ook vir baie giggles wanneer mens daaroor gesels. Ek het by vriende gaan kuier, en die ou is 'n regte gentleman, en het ook so nader gekom vir 'n soen. Ek was nie heeltemal seker of hy wou druk of soen nie, maar met my voorkeure, het ek hom net gedruk. Hy was toe op pad vir 'n soen, en toe ons skouers raak, soen hy my maar so skrams op die wang. Ek het so bietjie verleë gevoel.

Ek leer nou maar die kids dat hulle niemand hoef te soen as hulle nie wil nie. As hulle wil is dit reg, maar hulle moenie gedwing voel nie.

Persoonlik dink ek dis onhigiënies en ek sou bly wees as almal saam kon besluit om dit af te skaf. Ek meen, my kleinboetie was vir 18 maande in Amsterdam, en is nou terug. Hy sit voor my, en ons vang op en chat lekker. Hoekom moet mens spesifiek lippe kruis? Dit maak nie regtig sin nie, bietjie van 'n aardigheid.

Nou ja, snotterige groete,

Altruïs

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top