Bokomo-brekfisbrief; 03/11/2010: HJ en boeke

  • 0

Ek het nes jy ’n swakte vir boeke. My ander swakte is vroue. Dit moet ’n nuwe boek wees. Tweedehandse boeke is soos prostitute. Nie dat ek al met enige van hulle geheul het nie; ek betaal uit beginsel nie vir seks nie, maar het al uitgewerk hoeveel my eie vrou my kos en was na aan trane. Die plesier van ’n vars nuwe boek is eerstens die reuk van die boek. Dit ruik jonk en rein en skoon en as jy die boek oopvou wil hy self weer toevou van die weerspannigheid van die band van die boek. Ek voel altyd of my speeksel begin werk as ek ’n nuwe boek oopvou en net ’n baie klein brakkie se melkbekkiereuk kan naas ’n nuwe boek dit aan my doen.

Ek lees eers al rondom die boek in die voor en agterflap want ek redeneer dat mens veronderstel is om dit te lees. Engelse boeke het die gewoonte om die boek op die agterflap aan te prys deur skrywers wat jy nie ken nie, alles bemarking, maar dit is goed om te weet iemand anders het ook die boek wat jy nou gaan verslind, gelees en geniet. Ek geniet baie selde nie ’n boek nie. As baie mense gedink het die boek is die moeite werd om te publiseer kan dit onmoontlik so vrot wees dat jy agterna spyt gaan wees dat jy dit gelees het. Nou en dan as ’n spesiale plesiertjie ontdek jy op ’n dag ’n skrywer wat jou stom slaan en wat al anderhalfdosyn boeke geskryf het wat jy kan probeer opspoor.

Met al die lees raak al wat ’n kas is vol en oplaas moet mens op aandrang van ’n duur vrou die boeke in plastieksakke laai en na die plaaslike DBV vat. Hulle verkoop elke laaste en eerste Saterdag van die maand tweedehandse boeke en die gemiddelde prys van ’n boek is R6.00. Dit breek my hart om die boeke te gaan afgee. Dit gaan die oor die prys waarvoor hulle verkoop gaan word nie. Ek voel net dat ek van hulle eendag weer sal wil lees al weet ek uit ondervinding dat ek nooit ’n boek weer lees nie. Ek is te slim en vergeet nie maklik nie. Selfs na twintig jaar sal ek na die eerste hoofstuk van ’n boek die res onthou. Dit voel nogtans of ek iets van myself weggee met elke boek wat ek in die plastieksak gooi. Ek weet waar ek was toe ek hom gelees het en van my spoegbek vir die maagdelike reuk uit sy blaaie toe ek hom oopgevou het.

Hoe meer ek daaroor dink hoe meer voel ek dat koning Salomo elkeen van sy duisend vroue liefgehad het.

Lafras du Toit

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top