Bokomo-brekfisbrief; 03/10/09: Oor die ouderdom!

  • 0

Nadine, noudat jy so lekker verjaar en die toutrekkery met Ellen oor die ouderdom, moet ek gou vir jou vertel wat met my gebeur het! Hierdie is op ‘n druppel na, die volle waarheid. Sommige gegewens is effens gewysig om my vrou se geheim te beskerm.

Ek word een oggend wakker en merk dat ek ‘n effense skurwe kol langs my neus het. Dit was nog effens winterig daardie tyd van die jaar, ‘n paar jaar gelede. Vroulief is baie gaaf en beduie vir my waar in haar kas (waar ek nooit, ooit krap nie) ‘n buisie room is, wat ek kan aansmeer om die skurfheid hok te slaan.

Ek smeer toe sommer lekker kwistig van die room aan. Ek was nog besig om die goed in te vryf toe my wederhelfte my met ‘n rooi blos op haar gesig uittrap, omdat ek per ongeluk die verkeerde room (salf) gebruik het. Dadelik haal sy sommer self die korrekte buisie uit en gee vir my. Weer wend ek die room (nie weer salf nie) mildelik aan die uitgerafelde area op my gesig aan. Die goed laat sommer so ‘n warm gloed oor my hele gesig sprei, vermoedelik soos dit met die ander salf se bestanddele meng.

Die volgende oggend toe ek in die spieël kyk is daar niks van die skurfte oor nie. Om die waarheid te praat, daar is nie eens ‘n plooi op my gesig nie! Vroulief is verstom en sommer erg verlief toe sy die "nuwe" Jakkals voor haar sien. Kyk, ek is/was nog altyd trots op my plooitjies, wat party mans mos nog manliker laat lyk. Jakkals prys sy eie stert/plooie? Ewenwel vir ‘n hele week lank loop ek, gladde-gesig en baie bekommerd rond, voordat my plooitjies begin terugkeer. Sjoe, ek was darem baie bly om weer normaal te wees.

Van daardie dag af is my vroutjie, wat maar nog min plooitjies gehad het, ook heeltemal plooiloos. Vir ‘n paar jaar nou al probeer haar vriendinne uitvind wat haar geheim is vir die jonk bly. Dan gee sy net my arm so ‘n drukkie (vol van beloftes) en glimlag stilweg van oor tot oor. Die glimlag van haar, die enigste plooi op daai beeldskone gesig.

Jy moet lekker partie hou en die naweek geniet. O, ja ek kan nie meer so mooi onthou wat die salf se naam was nie, "canesta" of so-iets?

Cheers,

Jakkals

(Lag ek alweer! Dankie vir die wense! Webvoet)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top