My seun vertel dikwels dat daar nie so iets soos toeval is nie. Of dit toeval is of nie, maak nie saak nie. En ek gee ook nie om as iemand my ‘n naam gee omdat ek maklik met mense al is hulle vreemd begin praat nie. Dis mos lekker om met nuwe mense mee kennis te maak al is dit toevallig.
So ‘n maand of wat gelede kom ek stadig in die straat afgery. Mens jaag nie in stedelike- en woongebiede nie. Van voor kom ‘n man aangestap. Die oggend is koud en die persoon stap nie juis vinnig nie. Hy kry dalk warm genoeg anders sou hy vinniger gestap het. Dalk stap hy vir vars lug.
Ek stop regoor hom en begin gesels. Klim uit en stap oor die straat en stel myself voor. Begin sommer gesels oor die koue en hoekom hy stap. Sê hy dat hy vars lug soek want sy longe kry swaar in die winter en omdat hy rook. Daarom
‘n Dag later gaan kuier ek en ontmoet sy verloofde. ‘n Pragtige meisie met ‘n netso mooi persoonlikheid. Ek hou sommer van die paartjie. Hy vertel my waarmee hy alles besig is en dat sy verloofde ook sy bestuurder is. Dis nou nie bestuurder soos in ‘n gewone huishouding nie, maar sy besigheidsbestuurder. Ek kyk in sy studeerkamer en sien musiekinstrumente en mikrofone en luidsprekers en die soort van ding. Klomp elektroniese goed wat ek nie ken nie maar weet dat mens dit gebruik by sangkonserte. Op die rakke sien ek trofeë. Sama-toekennings en ek besef ek hou nie net van die outjie nie, hy is nog ‘n oulike sanger en akteur ook.
Sedertdien het ons al paar keer gesels. Die man en sy verloofde is plat op die aarde mense. Daar’s nie aanstellerigheid en voor-op-die- wa en verwaandheid teenwoordig nie. Eintlik kom hy so bietjie teruggetrokke voor. Maar hulle is aangename mense.
Die afgelope week het ek hulle nie gesien nie. Wanneer ek by hul huis verby geloop het, was sy kar reeds uit. Hy is nogal besig. Het gewonder waarmee is die man so besig want sy jongste CD is pas vrygestel.
Min het ek kon dink wat hom meer as gewoonlik besig gehou het, want toe ek so teen 7 uur vanaand daar aangaan moet ek hoor dat hulle so pas as man en vrou in die eg verbind is. Natuurlik is ek bly-verras. Hulle gesigte in die skemer het gestraal en hulle glimlagte was eg.
Ek glo en hoop nie hulle sal my kwalik neem as ek hier aanhaal wat agterop die foto wat ek gekry het, geskryf is nie.
Daar staan; “Wanneer jy besef jy wil die res van jou lewe met iemand deel, wil jy graag so gou moontlik met die res van jou lewe begin. Die res van ons lewe het dan nou amptelik begin op 1 Julie 2010.”
Zinta en Jan Blohm, baie geluk julle twee. Mag jul vreugde in mekaar vind van nou tot aan die einde van jul lewens.
‘n Bruid is altyd mooi, maar Zinta is ‘n pragtige meisie en het vanaand ook so gelyk.
Jakkie


