Bokomo-brekfisbrief; 03/04/09: Weer, 'n paar eenvoudige voorstelle vir SêNet

  • 0

 

 

Geagte redaksie

Miskien is my skrywe misplaas of uit voeling. As my bydrae die pot mis sit, help my reg?

Ek wil egter om duidelikheidshalwe net my gevoel oor SêNet afrond met ʼn paar praktiese voorstelle. Let wel, hierdie voorstelle maak net sin vanuit die oogpunt van die bevordering van saaklike gesprek. Daar is bepaald ruimte vir die informele koffietafel-"chat." Die vraag is egter of SêNet ʼn chatroom wil wees of ʼn forum? Tans bevat dit elemente van albei en ek wonder of dit na enige van hierdie kante toe optimaal funksioneer.

Dus, as SêNet ʼn beter forum wil wees, sou ek die volgende eenvoudige en minimale voorstelle maak:

1. Dat kategorieë geskep word na aanleiding van gesprekslyne wat spontaan ontstaan, soos bv "die aarde se ouderdom," "volkstaat," "verkiesing," ens. Naas ʼn brief se titel, verskyn dan die kategorienaam waarbinne dit val, indien enige. ʼn Titel kan dus so obskuur of persoonlik wees as wat dit wil, almal sal weet binne watter gesprekslyn dit val en kan dan meer ingeligte bydraes maak.

2. Dat die getal woorde van elke brief aangedui word. Dit kan almal verder help om keuses te maak van watter briewe om te lees. Tyd is vir baie ʼn faktor. Ander stel weer meer in langer, substantiewer bydraes belang.

3. Dat ʼn opsionele veld geskep word, "Aan." In plaas van dat jy dus ʼn skrywer in jou titel hoef aan te spreek kan jy een of meer wat belang het by dit wat jy skryf, apart aandui. Dit sal help om bydraes meer algemeen toeganklik te maak met ʼn beter balans tussen die saaklike en die persoonlike.

4. Dat soek/siftings-opsies gebied word vir kategorieë, skrywers en brieflengtes. ʼn Indeks-bladsy met ʼn oorsig oor al die kategorieë sal veral handig wees.

5. Dat die eerste twee of drie lyne van ʼn brief in klein skrif getoon word. Dikwels bied ʼn briefopening ʼn goeie aanduiding van die strekking daarvan. Dit bied ook die skrywer meer as net die titel om algemene lesers tot sy of haar punt te lok.

6. Dat daar ʼn graderingsopsie is by elke brief (soos bv YouTube se vyf sterre). Op dié manier word goeie bydraes demokraties na die oppervlak gebring en lok dit die algemene reaksie uit wat dit verdien.

7. Hierdie sal ʼn bonus wees: dat iemand van tyd tot tyd ʼn gesprekslyn opsom in terme van al die bydraes gemaak, met skakels na die onderskeie briewe. Dit sal nuwelinge ʼn idee gee waaroor reeds gepraat is en in die algemeen help om gesprek meer effektief te maak en selfs vars sinteses te bereik wat die weier publiek positief kan dien.

8. Nog ʼn bonus: Wat baie (besige) deelnemers sal help, is outomatiese e-pos-waarskuwings wanneer hul (skuil)name in ʼn "Aan" veld verskyn, soos wat Facebook, YouTube, ens doen.

Ek noem nie hierdie dinge in die gees van negatiwiteit oor SêNet nie. Dit ontspring uit my eie behoeftes, ja, maar ook uit dit wat ek van ander hoor wat SêNet jammerlik vermy, en oor dit waaraan mens gewoond raak op ander webwerwe. Allereers lê effektiewe gesprekvoering my na aan die hart. Ek voel veral ook dat, gesien in die lig van die belangrike rol wat LitNet/SêNet in die Afrikaanse gemeenskap speel, dit so wyd as moontlik bruikbaar en toeganklik behoort te wees.

As ek geen reaksie hierop kry nie, of geen aanduiding dat my voorstelle as sinvol beskou word nie, sal ek die saak in vrede laat en nie onnodige hoop koester nie. Ek bly deelneem soos wat dit vir my moontlik is.

Beste groete

Francois le Roux (HA!Man)

(Hiermee word vanjaar se Aprilgekgrappies finaal afgesluit. - Webvoet)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top