Bokomo-brekfisbrief; 03/02/2011: Vir Jaco Fourie oor sy taalevolusie

  • 0

Hallo Jaco

Dit is jammer dat jy dink dat ek aggressief was; daar is geen rede daarvoor nie want jy was nog altyd ordentlik.

Ek was miskien ongeduldig maar verstaan asseblief my posisie: Hier sit ek, Jan Rap, die gewone alledaagse Afrikaanse man en in my eie land, die enigste land waar Afrikaans gepraat word, kan ek nie my eie taal praat nie en onder sekere omstandighede MAG ek nie my eie taal praat nie. Ek mag nie Afrikaanse memo’s vir my Afrikaanse kollegas stuur nie, ek mag nie Afrikaans praat met my Afrikaanse kollegas in ’n vergadering nie en my telefoonboodskap moet Engels wees (nie dat ek my daaraan steur nie).

Eeue-oue Afrikaanse dorp-, straat- en plekname word weggeneem en in my land is daar radiostasies wat nie Afrikaanse musiek mag, let wel, nie “wil” nie, nie MAG speel nie. In my land word Afrikaanse opvoedkundige instellings op uiters brutale wyse verengels, dink net aan die frustrasie (en skade, en onkoste) wat dit veroorsaak. Hoe ’n klap in die Afrikaner se gesig is al hierdie goed nie.

Nêrens sien jy meer Afrikaans nie, selfs Pretoria en Bloemfontein (sal ek sê veral Pretoria?) is dit net Engelse uithangborde, alles in die winkels is Engels, alle padtekens, openbare kennisgewings, alles. Ek hoor nou daar word selfs in die Afrikaanse kerke Engelse liedjies en goed gesing.

Nou, al bogenoemde is genoeg om my erg te ontstel maar nog is dit het einde niet: Die Afrikaners verdra nie alleen bogenoemde miskenning nie, hulle DOEN MEE. En hier en daar waar ’n Afrikaner normaal optree; sy misnoeë uitspreek oor die skreiende onregverdigheid, word hy deur ander Afrikaners vermaan om, by wyse an anglisistiese spreke, nie golwe te maak of die appelwaentjie om te keer nie.

Waar ’n Afrikaner, soos Dan Roodt byvoorbeeld, nog verder gaan en iets te DOEN (benewens nou misnoeë uitspreek), soos enige Engelsman, Baskiër, Rus of enigiemand (sal ek sê veral Engelsman?) sou optree wanneer sy taal vertrap word, word hy deur mede-Afrikaners verguis. Dit is darem te erg; ’n Afrikaner wat durf waag om normaal op te tree, besef hy dan nie hy is lid van ’n verslane volk nie? A-nee-a.

In die lig van bogenoemde of liewer, in die lig van die status quo ten opsigte van Afrikaans en die Afrikaner; is dit vir jou snaaks dat ek so effens onthuts is? Is dit nie nog snaakser, samesweringsteorie-snaaks, dat daar nie meer Afrikaners is wat beswaar aanteken teen die toestand nie? Dis soos ’n SciFi-storie man, asof ons almal onder ’n soort van hipnose is. Ek is ernstig. Watse houvas is daar op ons dat ons vertrapping so gelate aanvaar? Soos ’n kalkoen binne ’n sirkel in die sand getrek sit ons doodstil binne een of ander gewaande grens. Baie eienaardig, sinister-eienaardig.

Op ’n punt van orde: Ek kritiseer nie jou spelling of Engelse aksent nie (ek het jou nog nooit hoor praat nie), ek wys jou daarop dat daar verkeerd gespel en gepraat word – en ek sluit myself daarby in – oor Engels in dermate in ons kele afgedruk word dat Afrikaans nie meer ons erns is nie; vir baie van ons is dit nou belangrik om korrek Engels te praat. Ek sal jou wed dat, as jy wat Jaco is ’n Engelse brief hier plaas, gaan daar geen taalkundige foute in wees nie, jou gebrek aan belangstelling in taalkunde ten spyt. Hoekom? Omdat jy ingeprent is dat Engels belangrik is en, ipso facto, Afrikaans nie.

Laastens, aangesien my kwota woorde nou haas opraak, net gou ’n ander wanopvatting van jou die nek inslaan naamlik dat ordentlike Afrikaanse briewe die domein van slegs die “Afrikaanse taalkundige akademikus” is. Dit is nie so nie; kyk maar hier op die einste Sê na Johannes Comestor, Dirk D, Swys, Kees Bottersma, Anton B, Kleinboer en Oom Daan om maar net ’n paar te noem, daar is nog baie. As Afrikaans jou erns is Jaco, is daar geen rede hoekom jou Afrikaanse briewe nie so goed soos jou Engelses kan wees nie. En terloops, daar is ’n verskil tussen evolusie en kwyn. Albei is verandering maar die een is groei en die ander is gestadigde dood. Moet dus nie die agteruitgaan en verbastering van Afrikaans verwar met groei nie.

Soos jy sê, die lewe is ’n lied. Moenie jou lewensgehalte inboet om ander te behaag nie.

Groetnis,

Jan Rap

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top