Eendag, omtrent so 2 000 jaar gelede, was daar 'n donkerkopmeisie van Joodse afkoms. Haar naam was Maria. Dit is nie duidelik of sy juis mooi was nie. Ek sou sê sy was jonk, nie baie lank nie, met 'n blas vel en lang, donker hare. Skamerig en beleefd, soos dit 'n vrou van daardie tyd betaam het. Sy was deur haar ouers beloof aan vriende van hulle se seun, 'n man met die naam Josef. Hy het homself bekwaam in die destyds algemene nering van skrynwerker. Sy het hom nie eintlik geken nie. Hy was ouer as sy, en sy het gewoonlik skamerig vir hom geloer as hy saam met sy ouers by hare kom kuier het. Sy was baie bewus van die feit dat sy nie juis 'n sê gehad het in hierdie beloofde verbintenis nie. Sy het dit egter gelate aanvaar, soos dit ‘n vrou van daardie tyd betaam het.
Maria het egter 'n geheim saam met haar gedra. Sy was verlief. Dit was nie Josef nie. Sy het as jong meisie liefde gevind in die pragtige oë van die buurman se seun. Dit was 'n verbode liefde. Soos dit dan met die liefde gaan, hetsy verbode of nie, het Maria en haar geliefde ook van die verbode vrugte geproe. Dalk net een keer, dalk meer, wie weet. Die gevolg hiervan was egter dat Maria swanger geraak het. Tragedie op tragedie. Sy het met hierdie bitter wete en angs in haar hart geloop. Toe beraam sy 'n plan. Sy sal aan haar ouers en Josef vertel dat 'n engel aan haar verskyn het. Sy sal sê dat hierdie kind deur God in haar geplaas is. Sy sal volstaan by die "wonderwerk" en niemand hoef te weet van haar dwalinge nie. Sy sal dit verkondig aan die bygelowige volksgenote as die absolute waarheid. Sou sy nie daarin slaag nie, is haar lot heel moontlik 'n steniging buite die stadsmure.
Josef het swaar gesluk aan die storie, maar was 'n sagte man. Hy het uiteindelik toegelaat dat sy hom ompraat en steeds belowe dat hy met haar sou trou. Haar ouers het ook gewonder, maar die werklikheid was so totaal fataal, sondig en vernederend dat hulle, later in totale selfoortuiging, ook haar storie aan almal bevestig het. En so het die leuen 'n werklikheid geword. En Maria die moeder van God.
Kon dit dalk so gebeur het? Wie sal weet ...
Karin


