Bokomo-brekfisbrief; 02/11/09: ... op 'n meer positiewe pad?

  • 0

My briefie het eers 'n bietjie van 'n aanloop. Ek was gisteraand besonder getraumatiseer na ek die link oopgemaak het (ek weet ons is gewaarsku) en trompop vas moes kyk in die mees grusame bewyse van onmenslikheid wat ek ooit gesien het. Of dit goed of sleg is om hierna te kyk? Wel, ek is in two minds daaroor. Ek dink al mens se serotonin verlaat jou liggaam onmiddellik en bly vir 'n wyle weg - drank help nie. Inteendeel. Is ignorance bliss? Die antwoord is 'n besliste nee! Ignorance lei tot wanopvattings en ‘n valse gevoel van veiligheid wat ons nie meer kan bekostig in hierdie land nie. Ek wens ek het dit nie gesien nie, maar dit is realiteit en kan nie weggewens word nie. Dit is ook nie net ander se realiteit nie, dit is ons eie.

Nou hoe gemaak om te oorleef (fisies en psigies) in 'n omgewing waar jy nie weet of jy die volgende slagoffer gaan wees nie? Ek word daagliks gebombardeer met negatiewe dinge. Almal om my is negatief en gatvol. Niks werk meer nie, almal wil landuit, rasse haat mekaar en die haat word aangeblaas deur die media. Daar is nie 'n toekoms vir my of my kinders nie. Ek werk saam met die mees onvolwasse en onopgewasse mense en stamp my kop blou teen mure wat net al hoe harder en meer ondeurdringbaar word. Ek maak nie meer ‘n verskil nie. Ek kan dan ook verstaan hoekom mense (veral die wat deurentyd aan hierdie walglikheid blootgestel word) hulself en hul families uitwis in die aansig van 'n totale hopeloosheid. Is daar enigsins hoop?

Ja daar is.

So rukkie gelede het ek 'n stukkie geskryf oor die klein dorpie Klaarstroom in die Prins Albert distrik ...

Op 'n kronkelpad vanaf Beaufort Wes ry ek ingedagte, oppad na 'n welverdiende vakansie iewers aan die tuinroete of waar die pad ook al heen lei. Omtrent 'n uur nadat ek die MegaWimpy koffie van Gert Vlok Nel se verlore liefde agterlaat is daar 'n gevoel van rustigheid wat my oorrompel. Ek ry stadiger, opeens nie meer haastig na die eindpunt nie, maar deeglik bewus van die reis. Is dit die magiese Swartberge wat groots en majestueus met millennia se wysheid geheimenisse fluister vir die wind? 'n Fetusdorpie lê opgekrul aan die voete van haar moederberge. Klaarstroom. Ouwêreldse sjarme waar tyd aan geen mens behoort nie, waar verlede, hede en toekoms in harmonie voortbestaan. Die stilte eggo tot teenaan die stroom wat weliswaar nie hier eindig nie. Hier klop Afrika se hart warm en eindeloos. Elke huisie is poësie en vertel sy lewensverhaal van klip en sink met liefde en bloedsweet gebou. Soos 'n liefdevolle katjie kom spin sy aan my voete en verlei my met haar wilde ongereptheid, sielvolle ongekunsteldheid. Karooknus, somerspatsel teen die laatmiddagpers. Lank nadat ek Meiring se poortdriwwe agtergelaat het bly die beeld van die slapende skoonheid in haar ewige rusplek my by. Ek sal terugkom, weer en weer. Mag sy immer maagdelik mooi bly soos die bruid wat sy is. Klaarstroom.

Gisteraand het die inwoners van hierdie gemeenskap 'n vergadering gehou. Daar is heen en weer, in mooi Afrikaans, idees uitgeruil oor die hokslaan van klein misdaad, misbruik van drank en opvoeding van kinders. Die gemeenskap het eenparig saamgestem dat die polisiestasie op die dorp 'n opknap nodig het, dat almal gaan saamwerk om dit te bewerkstellig, dat gemeenskapspolisiëring almal se plig is om die vrede te kan bewaar. Die Kleurling voorsitter het hom briljant van sy taak gekwyt om orde te handhaaf en die mense te lei na die groter oplossing. Elkeen kon 'n bydrae lewer en elkeen se bydrae is oorweeg en bespreek. Dit is vir my belangrik om hieroor te skryf, want ons moet weet dat daar klein wonderwerkies is wat daagliks gebeur. Daar is eilandjies in hierdie woeste suidpunt van Afrika waar daar wel nog hoop is. Ons kan nou wel nie almal daarheen trek nie, maar is dit nie goed om tog nog in die goedheid van mense te kan glo nie. Hande kan uitgereik word. Mense kan 'n verskil maak. Daar sal altyd nog hoop wees. Moenie moed verloor nie.

As mens nie dieper wil gaan soek na verskuilde agendas nie, kan jy selfs opgewonde raak oor Julius Malema se hand van vriendskap wat hy uitgesteek het na prof Jansen. Sy woorde het gisteraand lank deur my kop gemaal ..."let us support him, he is one of our own". 'n Klein druppel in die see, maar wie weet hoeveel positiewe rimpels daardie druppel kan veroorsaak?

Karin

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top